Prof. Allan Boesak skryf:
Drie weke nadat ek as die jongste leraar nog in ons kerk georden is, het ek voor een van die ouer vroue in ons kerk, wie se huis bewillig sou word, gesit. Sy was kwaad en bitter en het dit nie weggesteek nie.
Tannie Meraai was in elk geval ’n formidabele vrou, soos só baie ma’s in ons gemeenskappe. Sy gaan nie hierdie jong nat-agter-die-ore-pastoor sag-seep of spaar nie.
“Jy hoef nie met my oor Jesus te praat nie,” sê sy sonder om te glimlag terwyl sy met Bybelse verontwaardiging praat.
“Ek het Hom geken en liefgehad lank voor jy gebore is. Wat ek wil weet is dit: Wat sê God oor onreg? Hoekom laat God toe dat dit gebeur? Ek gaan my huis verloor, die plek wat ons self gebou en liefgehad het, waar my kinders grootgeword het. Ek gaan my herinneringe verloor. Wie dink hulle is hulle? En wat dink God?”
Toe sê sy: “Ek sal Sondag in die kerk wees. Ek wil hê jy moet my vertel van God en hierdie onreg. Dan kan jy met my praat oor die liefde van Jesus daarna.”
Ek was stil en geskud – nie omdat ek gedink het sy is onredelik of nie genoeg glo of vertrou nie, maar omdat ek sou vind dat niks in my teologiese opleiding oor vyf jaar – glad niks – my hierop voorberei het nie.
My teologie was te verarm, my begrip van die Bybel te vlak, my geloof te piëtisties, ’n pie-in-die-hemel-wanneer-jy-sterf-poging tot troos sonder die verlossing van protes en woede. Daardie Sondag het ek my eerste “politieke” preek gepreek, soos mense dit genoem het.
Tannie Meraai was gaaf, maar ek het geweet ek het misluk. Dit sou aanhou om by my te spook. Ek sou nie rus totdat ek die woorde gekry het nie.” (Uit die boek Running with Horses – Reflections of an Accidental Politician, Allan Boesak, 2009).
As deel van die Chairman’s Courageous Conversation-reeks, KC 107.7, sal die gemeenskapsradiostasie in samewerking met die Athlone Institute Trust, AC Rotweiler Sekuriteit en Neil Lyners vanaand (Donderdag 12 Mei) ’n gesprek met prof. Allan Boesak van 18:00 tot 20:00 aanbied.
Prof. Boesak reis terug na die plek waar alles meer as 50 jaar gelede by die Immanual kerk in Paarl in 1968 begin het. Tant Meraai Arendse se kleinkinders sal teenwoordig wees wanneer hy ’n lesing lewer – “A Promise to Keep: Immanuel, Tannie Meraai and Beyond”, met ’n geleentheid vir gaste om vrae te stel.
Die geleentheid sal regstreeks op KC 107.7 uitgesaai word en regstreeks via die Facebook-bladsy van KC 107.7 gestroom word.
Prof. Boesak sal sy jongste boek, Selfless Revolutionaries – Biko, Black Consciousness, Black Theology and a Global Ethic of Solidarity and Resistance, bekendstel, wat teen R300 by die geleentheid te koop sal wees.
Sitplek is beperk en moet bespreek word. Kontak Lee Ann Mankopan by 021 871 1438 of per e-pos by chair@radiokc.org.za





