Die Drakenstein-vallei kan die naweek gereed staan vir ’n wêreldrekord vir potjiekos wat Mark Maingard wil opstel. Hy gaan 100 potjies kos gelyktydig kook en daarna aan sopkombuise in die Wes-Kaap skenk.
“Die rekord behels dat ek 100 potjies alleen moet kook. So, ek, man-alleen, gaan 100 potjies kook. ’n Mens kan dit nie alles gelyk doen nie. Dit is fisiek onmoontlik. So, ek doen tien potte op ’n slag. Daar is tien potte in tien rye en elke halfuur sit ek nog tien potte aan die gang. Ek het uitgewerk dit gaan my tussen vyf en ses ure vat om al die potjies klaar te maak.”
Maingard is die uitvoerende hoof van die niewinsgewende besigheid Outside the Bowl Africa (OTB). Hulle vervaardig voedsame etes wat deur die land en Suider-Afrika onder honger kinders versprei word.
Maingard sê dit is ook die hele motivering agter die geleentheid. “Ons vervaardig kosse vir honger kinders in Suid-Afrika, Suider-Afrika en ander lande.
“Dit is ons besigheid en dit is regtigwaar net om bewustheid te skep vir dit wat ons doen, en sodat ek ook ’n bietjie pyn voel, soos honger kinders voel. Dit gaan glad nie oor my nie. Dit gaan oor die geleentheid.”
Volgens Maingard gaan hy pasta-, maalvleis- en lensiepotjies maak. Die bestanddele sluit in maalvleis (1 000 kg), wortels (500 kg), uie (300 kg), lensies (200 kg), pasta (600 kg), tamatiepasta (300 liters), sout (20 kg), gemaalde peper (5 kg), suiker (50 kg) en ’n breyani-mengsel (50 kg). Hy gaan ook 300 groot sakke houtskool-brikette gebruik om die vuur aan die gang te hou, en 100 nommer 20-potjiekospotte. Maingard sê daar gaan meer as een miljoen borde kos uitgedeel word as gevolg van hierdie geleentheid.
“Elke pot met sy warm kos word geskenk aan gemeenskap-sopkombuise in die Wes-Kaap. So, hulle kry die warme ete in die pot, plus die pot vir hul sopkombuis. En dan gee ons vir hulle nog 10 000 porsies van ons Vita Kidz-kos wat ons vervaardig in ons fabriek. Daar is 100 sopkombuise wat gaan baat vind by wat ons doen. Die Vita Kidz-kos gaan ons in die week ná die geleentheid aflewer.”
Saterdag se geleentheid is ’n “small price to pay”, meen Maingard, want daar is enorme hongersnood in Suid- en Suider-Afrika.
Hy is ook baie bly dat verskeie groot maatskappye en individuele borge die geleentheid help moontlik maak.
Maingard nooi die gemeenskap uit om te kom kyk hoe hy Saterdag op Wellington die wêreldrekord opstel.
Hy sê dit gaan baie spesiaal wees, veral met Alvin Bruinders en Marinda Engelbrecht, wat as aanbieders sal optree.
* Mark Maingard is preparing to set a potjiekos world record this weekend.





