Nadat Cosatu verlede week in ’n dagblad laat hoor het dat die Suid-Afrikaanse Poskantoor met afleggings gaan begin, het Paarliete begin wonder of die plaaslike poskantoor wel sy deure in die Paarlse middedorp gaan open.

’n Dagblad het verlede week berig Cosatu het gesê die staat het in die begrotingsrede in Februarie aangekondig dat 6 000 van die 16 000 poskantoorwerkers van 2022 tot 2024 afgelê gaan word en hy vra die regering om in te gryp om die beplande afleggings te stop.

By navraag aan die Suid-Afrikaanse Poskantoor het Johan Kruger aan Paarl Post gesê die poskantoor het nog geen finale planne vir afleggings nie. “Op die oomblik is konsultasie met die vakbonde en werknemers aan die gang, en geen finale besluit is geneem nie.”

Geen duidelikheid heers ook oor wanneer die poskantoor weer sy deure in die Paarlse middedorp gaan open nie.

Die aanvanklike datum wat die poskantoor sou heropen, was op 1 Augustus, maar volgens Kruger kon die tak nie open nie omdat hulle probleme gehad het om die rekenaars oor te plaas en aan die netwerk te koppel.

Intussen het inwoners navrae aan Paarl Post gerig omdat hulle steeds voor dooiemansdeur kom wanneer hulle die nuwe gebou van die poskantoor besoek.

In Oktober het Kruger by navraag oor of die poskantoor wel nog gaan open, gesê die nuwe perseel is gereed, maar “huurgeld is tans uitstaande”. Dit is die gevolg van die poskantoor se beperkte kontantvloei. “Die eienaar van die gebou sal die poskantoor toelaat om in te trek sodra die uitstaande bedrag betaal is.”

Vandeesweek het Kruger gesê die plan is wel om die kantoor so gou as moontlik te open.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article