Die Paarl se hoof poskantoor sal binnekort weer sy deure open op die hoek van Hoof- en Lady Greystraat in die Paarl.

Lise Beyers

Talle inwoners het die afgelope week voor dooiemansdeur te staan gekom toe hulle die poskantoor by Rembrandt Mall in die Paarl wou besoek.

Dié poskantoor se deure het reeds op 1 Julie gesluit en kliënte word nou verwys na die poskantoor in Paarl-Oos by die Paarl-Oos Spar.

Volgens ‘n betroubare bron sal die poskantoor se posbusse steeds by die Rembrandt Mall wees.

‘n Omgekrapte inwoner het Paarl Post laat weet dat talle inwoners sukkel om die poskantoor in Paarl-Oos op te spoor, en op ‘n plaaslike woonbuurt se Whatsapp-groep het ‘n inwoner ook gekla dat hy ‘n brief wat reeds in Maart vanjaar aan hom gepos is, eers vandag, drie maande later, ontvang het.

Volgens Johan Kruger, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, sal die Paarl-hoofposkantoor binnekort in sy nuwe tuiste oopmaak.

“Die Paarl-hoofposkantoor heropen op 15 Augustus weer in die Telkom-gebou op die hoek van Lady Grey and Hoofstraat, Paarl, wat waarskynlik nostalgiese herinneringe vir baie inwoners sal oproep. Die poskantoor is jare gelede in die gebou gehuisves.”

“Dit maak finansiële sin om die Paarl-poskantoor na sy tradisionele tuiste terug te neem, en die skuif is deel van die SA Poskantoor se fokus om takke te verskuif na waar dit gerieflik vir kliënte is en waar dit finansieel sin maak.”

Kruger sê dat die SA Poskantoor intussen kliënte versoek om die Paarl-Oos-poskantoor in 2 Marlboroughstraat, Charleston Hill, Paarl-Oos te gebruik. Die poskantoor is in die Superspar en kan by 021 862 0875 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article