Ná verlede week se nasionale begrotingsoorsig bestaan die hoop steeds dat die poskantoor eendag sy deure in die Paarlse middedorp sal heropen.
Enoch Godongwana het Woensdag 22 Februarie aangekondig dat R2,4 miljard vir die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) geoormerk is.
Volgens Johan Kruger, die woordvoerder van Sapo, sal van dié geld wel op die Paarl-tak bestee word.
“Die Paarl-poskantoor is ’n prioriteit vir die poskantoor en hy sal heropen sodra die geld beskikbaar is. Ons is in hierdie stadium nie seker wanneer dit oorbetaal sal word nie. Die poskantoor is wel besig om nuwe prioriteite op te stel – die regering se hulp is minder as waarvoor ons aansoek gedoen het, maar Paarl se poskantoor is gewis op die lys,” het Kruger gesê.
Die poskantoor in die middedorp het sy deure reeds in Julie verlede jaar gesluit met die belofte van ’n heropening in Augustus 2022.
Die verwagting is dat die poskantoor weer sy deure op die hoek van Hoof- en Lady Greystraat in die Paarl – in dieselfde gebou waar dit jare gelede was – sal open.
Dié aankondiging het net goeie herinneringe by inwoners wakker gemaak, maar die heropening is nog nie ’n werklikheid nie en sal nog ’n rukkie neem.
Kruger het verlede jaar aan Paarl Post gesê die infrastruktuur van die gebou het probleme en dit moet eers reggestel word om die meer moderne stelsel te akkommodeer.
Paarl Post het in Oktober weer navrae gerig om vas te stel wanneer, en óf, die poskantoor nog gaan heropen.
Kruger het geantwoord: “Die nuwe perseel is gereed, maar huurgeld – die gevolg van die poskantoor se beperkte kontantvloei – is nog uitstaande. Die eienaar van die gebou sal die poskantoor toelaat om in te trek sodra die uitstaande bedrag betaal is.”
Inwoners wat van die poskantoor se diens gebruik wil maak, kan intussen die Paarl-Oos-poskantoor in Marlboroughstraat 2, Charleston Hill, besoek.
Dié poskantoor is geleë in die kompleks van die Paarl-Oos Superspar.


