Conrad Poole, die voormalige uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit wat tans as parlementslid vir die DA in die nasionale vergadering dien, het tydens sy termyn as burgemeester aansoek gedoen vir ’n sitplek in die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer en nie sy onderhoud “geslaag” nie, is vandeesweek onthul.
Ondanks sy onsuksesvolle aansoek is hy wel op 6 Maart verlede jaar – enkele dae nadat hy deur ’n wantrouemosie as burgemeester verwyder is – as lid van die wetgewer beëdig.
’n Onberispelike bron het aan Paarl Post gesê Poole het glo tydens die werwingsprosesse versuim om aan te dui dat hy sy onderhoud in Afrikaans wou voer.
“Toe hy vir die onderhoud opdaag, was hy glo ‘verstom’ om te hoor dat dit in Engels gedoen sal moet word. Daar is ook nie tolkdienste gereël nie, dus moes die onderhoud toe in Engels gevoer word.”
Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het by navraag bevestig dat Poole in sy tyd as burgemeester vir ’n sitplek in die wetgewer aansoek gedoen het.
“Dit is heeltemal normaal – selfs op munisipale vlak – vir lede van die party [DA] om hulle vir ander posisies beskikbaar te stel,” het Zille telefonies aan Paarl Post gesê.
Sy het nie aangedui presies wanneer hy aansoek gedoen het en om watter redes hy nie die werwingsprosesse “geslaag” het nie.
Op Paarl Post se vraag oor wat hom toe enkele dae ná sy verwydering as burgemeester bevoeg vir die pos gemaak het, het Zille bloot gesê “die party het al die voorgeskrewe stappe vir die werwing van kandidate” met Poole se aanstelling in die wetgewer gevolg.
Poole het in ’n WhatsApp-boodskap aan Paarl Post gesê: “My party respekteer al die land se amptelike tale.
“Ons het die keuse om ons onderhoude in die taal van ons keuse en waarmee ons gemaklik is, te voer. Daar is altyd iemand wat tolk.
“Dit is vir my baie vreemd hoe ’n joernalis sal hardloop met ’n storie van slegs een onbekende bron. Ek het geen verdere kommentaar nie. Ek is nou ’n parlementslid en ek geniet my werk,” lui die boodskap.
Poole is op 28 Februarie verlede jaar in ’n wantrouemosie as Drakenstein se uitvoerende burgemeester verwyder.
Die mosie is deur opposisiepartye gedryf te midde van bewerings dat hy glo sy burgemeesterskomitee vir hul poste laat betaal het.
’n Ondersoek deur ’n Kaapstadse regsfirma het prima facie–bewyse gelewer dat hy wel die gedragskode vir raadslede deels oortree het.
Hy moes toe voor ’n tugkomitee verskyn, waarvan dié proses te midde van sy verwydering deur die mosie doodgeloop het.
Die mosie op 28 Februarie het geslaag nadat selfs DA-raadslede ten gunste daarvan gestem het.
Poole is toe ’n week later in die wetgewer beëdig nadat Dan Plato, ’n oudburgemeester van Kaapstad, uit die DA bedank het om by die People’s Movement for Change (PMC) aan te sluit.





