Paarl se polisiekollege was eens ’n trotse polisie-opleidingsentrum – soveel so dat dit later jare opgegradeer is na universiteitstatus vir gevorderde opleiding binne die polisie.

Maar dit het ook platgeval ná slegs ’n paar jaar en dit blyk nou dat die kollege nog verder afgegradeer gaan word.

Volgens inligting van binne die kollege is daar deesdae baie minder en selfs geen senior offisiere wat hier opleiding kry nie.

En die kollege word nou weer verder afgegradeer en sal binnekort begin om slegs rekrute op te lei – volgens inligting, so 350 op ’n slag.

Hierdie selfde situasie het ’n paar jaar gelede plaasgevind by die opleidingskollege in Graaff Reinet en die rekrute het ’n negatiewe uitwerking op die dorp weens wangedrag gehad.

Navrae hieroor is aan die nasionale polisie se kommunikasie-afdeling gestuur, en tot op hede is geen terugvoer ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article