Die Paarl-Oos-polisie het die afgelope week hul hande vol gehad met inhegtenisnemings.
Beamptes het ook bewusmakingsveldtogte gedoen.
Volgens kol. Mzimkulu Jack, hoof van sigbare polisiëring in Paarl-Oos, is altesaam 84 mense in hegtenis geneem, van wie 55 verdagtes in die hof verskyn het. “Een moord is aangemeld. Die oorledene is in Sarah Robertsonstraat gesteek en is saam met sy gesin met private vervoer na die Paarl-hospitaal geneem. Die slagoffer is op die noodoperasietafel dood. Die verdagte is in hegtenis geneem,” sê Jack.
In ’n afsonderlike voorval het drie gewapende mans ’n inwoner van Paarl-Oos beroof. Die slagoffer was besig om sy hek buite te sluit toe die verdagtes hom nader. Een het ’n vuurwapen uitgepluk en dit teen die slagoffer se kop gedruk. Jack sê een van die ander verdagtes het in dié tyd die man se selfoon afgeneem.
“Die verdagtes het van die toneel af gevlug. Die polisie het gekom en die slagoffer het verduidelik wat gebeur het en daarin geslaag om een van die verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem,” voeg Jack by.
Dis ook vir Paarl-Oos-polisie belangrik om die gemeenskap voortdurend deur bewusmakingsveldtogte in te lig. Die afgelope week het hulle die gemeenskappe van Chicago, Klein Nederburg en Smartie Town oor geslagsgebaseerde geweld, dwelmmisbruik en afpersing ingelig.




