Die Paarl-Oos-polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om saam met die polisie te werk en nie teen hulle nie.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, sê terwyl hulle voortgaan om die gemeenskappe in die Paarl-Oos-polisiëringsgebied te dien en te beskerm, bly die polisie verbind tot die veiligheid van sy beamptes en die welstand van die gemeenskap.
“Die onlangse voorvalle van geweld teen lede van die polisie het die risiko’s en uitdagings wat ons personeel daagliks in die gesig staar, beklemtoon. Ons eer die dapperheid en toewyding van ons beamptes wat hul lewe op die spel plaas om ons gemeenskappe veilig te hou.”
Kol. Liticia Hans, die Paarl-Oos-polisie se bevelvoerder, moedig inwoners aan om in solidariteit met polisiebeamptes saam te staan. Sy sê die veiligheid van polisiebeamptes is belangrik en die uitwerking hiervan op die gemeenskap se welstand moet erken word.
“Die veiligheid van ons beamptes is uiters belangrik en ons sal voortgaan om proaktiewe maatreëls te tref om hulle te beskerm.
“Ons waardeer ons verhouding met die gemeenskap en glo dat ons saam ’n veiliger omgewing vir almal kan skep,” sê Hans.
Seekoei en Hans doen verder ’n beroep op gemeenskappe om die veiligheid van beamptes saam met die polisie te bevorder en geweld te help voorkom.
Inwoners word aangemoedig om die volgende stappe te doen:
. Skakel die Stop-Misdaad-nommer – 08600 10111 – om verdagte aktiwiteite en potensiële bedreigings in die gemeenskap aan te meld;
. Ondersteun plaaslike inisiatiewe wat gemeenskapspolisiebetrokkenheid bevorder; en
. Moedig dialoog tussen die Paarl-Oos-polisie en die gemeenskap aan deur gemeenskapsbetrokkenheid en die organisering en bywoning van imbizo’s.





