Die onwettige vuurwapen waarop polisielede in Paarl-Oos beslag gelê het.


Waardevolle inligting het die Paarl-Oos-polisie in hul taak gehelp om ’n ongelisensieerde vuurwapen en onwettige ammunisie uit die strate te kry.

Volgens kapt Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, het lede van dié plaaslike polisiekantoor se misdaad­voorkomingseenheid die afgelope Donderdag (25 Julie) hand aan hand saam met die Paarl-misdaad­intelligensie-insamelingseenheid gewerk.

“Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, is Donderdag tussen 15:00 en 15:30 vasgetrek nadat lede waardevolle inligting ontvang en ’n lasbrief vir deursoeking en beslaglegging bekom het, wat hulle na ’n huis in Magnoliastraat, Paarl-Oos, gelei het,” verduidelik Seekoei.

“Tydens die deursoeking van die huis het lede ’n 9-mm-pistool, met die reeksnommer wat afgevyl is, in die slaapkamer van die 37-jarige verdagte gevind.

“Verdere inligting het lede na ’n huis in Meerhofstraat in Charleston Hill, Paarl-Oos, gelei, waar beslag gelê is op 10 rondes 9-mm-ammunisie. ’n 21-jarige verdagte is daarna in verband met die onwettige ammunisie in hegtenis geneem.”

Seekoei het verder bevestig dat die vuurwapen vir ballistiese toetse gestuur sal word om vas te stel of dit tydens ’n misdaad gebruik is.

Kol. Liticia Hans, die bevelvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, is baie beïndruk met die inhegtenisnemings en het die betrokke polisielede vir hul uitstekende werk geprys.

Sy meen die twee inhegtenis­nemings is ’n bewys van die polisie se toewyding om die gemeenskap veilig te hou, asook hul vasberaden­heid om onvermoeid te werk om wapengeweld te voorkom en inwoners te beskerm.

“Die vuurwapen is uit die strate verwyder, wat moontlike onskuldige lewensverlies voorkom het. Die Paarl-Oos-polisie bly daartoe verbind om onwettige vuurwapens te verwyder en oortreders aanspreeklik te hou,” het kol. Hans gesê.

Die verdagtes het Vrydag (26 Julie) in die Paarl-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article