’n Vermeende verkragter van Paarl-Oos is verlede week (5 Januarie) ook vir die onwettige kweek van daggaplante vasgetrek.
Volgens Edgar Petersen, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos- gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), was beamptes van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) in die Paarl op soek na ’n verkragtingsverdagte in Amstelhof.
“Tydens die uitvoering van hul pligte het GKS-lede op ’n groot aantal daggaplante afgekom. Die Paarl-Oos-polisie is in kennis gestel en by nadere ondersoek het hulle honderde daggaplante in verskeie stadiums van groei aangetref,” sê Petersen.
Kapt. Anthony Sauls, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos- polisie, het die groot daggavonds in Amstelhof bevestig. Hy sê die plantasie is by ’n informele woning in Kanariestraat opgespoor.
“Inwoners van Amstelhof het die inligting verskaf,” sê hy.
Die verdagte, wat weens die onwettige kweek van daggaplante in hegtenis geneem is, is ook die verkragtingsverdagte na wie die GKS-lede gesoek het.
“Ons as die Paarl-Oos-GPF prys die betrokke polisie-afdelings vir hul ywer, harde werk en streng toepassing van die wet.”.
- Paarl East police raided a marijuana plantation in Amstelhof last Thursday (5 January).





