Die Paarl-Oos polisie is aangewys as die beste polisiekantoor onderleiding van ’n kolonel in die Wes-Kaap.
Dié goeie nuus is die afgelope naweek by die provinsie se polisieprysuitdeling gedeel.
Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos polisie, is die seremonie Saterdag (14 Januarie) by die Century City konferensiesentrum in Kaapstad gehou.
Die Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, het polisiebeamptes en burgerlikes vereer vir hul toewyding en dienslewering in hul onderskeie verantwoordelikhede vir polisiëring gedurende 2022.
Kol. Wellington Stephans, die stasiebevelvoerder van die Paarl-Oos-polisie, sê hy is baie trots op sy bestuurspan en beamptes wat tot die sukses en prestasie van dié kantoor bygedra het. Om so ’n prys te ontvang, is ’n eer, en ons moet trots wees op ons prestasie. Ons kon dit nie alleen doen nie en daarom wil ek my dankbaarheid oordra aan die gemeenskapstrukture, die gemeenskapspolisiëringsforum, departemente en belanghebbendes,” voeg Stephans by.
Edgar Petersen, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos GPF, het die polisie namens die GPF gelukgewens.
“Die Paarl-Oos-polisiekantoor onder leiding van kol. Stephans gaan gereeld onder geweldige druk en kritiek gebuk, wat veral spruit uit ’n tekort aan hulpbronne. Ten spyte daarvan het die kantoor die prys as ‘beste kolonel polisiekantoor in die Wes-Kaap gewen.”
- The best colonel police station in the Western Cape is Paarl East police.





