Foto ter illustrasie.Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Die onlangse taalbeleid-penarie wat hom in die Malmesbury-polisiekantoor uitgespeel het, is nie ’n provinsiale of landswye instelling nie, en het ook ongrondwetlik plaasgevind.

Paarl Post het uitgereik na kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, wat bevestig het dat die amptelike interne taal van kommunikasie binne die Suid-Afrikaanse polisiediens (SAPD) wel Engels is, maar dat dit nie beteken dat die publiek nie in die taal van hul keuse mag kommunikeer nie.

Volgens Die Burger se berig van 23 September het ene kapt. Tamboer van die Malmesbury-polisiekantoor ’n inskrywing gemaak wat gelui het dat alle polisiebeamptes by dié kantoor klaers se sake asook getuies se verklarings in Engels moet afneem.

Volgens die berig het die stasiebevelvoerder, kol. Benjamin Gqabi, ook die polisiekantoor gewaarksu dat hulle “met vuur speel” indien die inskrywing nie nagekom word nie.

Volgens die kaptein het die opdrag van die polisie asook die departement van justisie gekom.

Traut het verduidelik dit is nie die geval nie.

“Die taalbeleid van die polisie bepaal dat Engels gebruik word vir amptelike dokumente en vir die voorbereiding van saakdossiere wat vereis word vir geregtelike doeleindes in ’n hof.

“Die SAPD-taalbeleid verhinder nie ’n klaer om ’n verklaring in sy moedertaal af te lê nie. Indien ’n polisiebeampte nie vertroud is met die taal van die klaer se keuse nie, sal reëlings getref word om die klaer te akkommodeer, en niemand sal op grond hiervan weggewys word nie.”

Boland-inwoners hoef dus nie bekommerd te wees nie, want die taalbeleid akkommodeer landswyd alle tale, en Engels word deur die staatsdepartement in slegs amptelike dokumente gebruik.

Paarl Post het verder uitgereik na kol. Johan Barkhuizen, woordvoerder van die Wellington-polisiekantoor, wat die volgende gesê het:

“Die amptelike taal in die Suid-Afrikaanse polisiediens is Engels, [en] dit beteken Engels moet deur al die lede in amptelike dokumente gebruik word, wat saakdossiere insluit. Die uitsondering is die publiek wat nog steeds in die taal wat hulle verstaan en verkies, kan kommunikeer. Klaers en getuies kan nog steeds hul verklarings in byvoorbeeld Afrikaans aflê.”. The recent language policy dilemma that played out at the Malmesbury police station, is not a provincial or nationwide institution, and also took place unconstitutionally.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article