Die Paarl-Oos-polisie het R400 000 se gesteelde koperkabel in Chicago, Paarl-Oos ontdek.

Credit: SYSTEM

Polisielede van Paarl-Oos het gedurende ’n klopjag op ’n groot hoeveelheid vermoedelik gesteelde koperkabels afgekom.

Die waarde van die vonds is sowat R400 000.

Volgens ’n persverklaring uit die kantoor van die Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris wat 5 Januarie uitgereik is, is die betrokke koperkabels Woensdag 4 Januarie in Chicago, Paarl-Oos gevind.

Die Polisiekantoor in Paarl-Oos het ’n wenk ontvang en ’n span van die misdaadvoorkomingseenheid, sektorbestuurders en nuwe aanstellings saamgestel om die inligting op te volg.

Die groep het daarna op drie huise in Chicago toegeslaan. By die derde huis is die gestroopte koperdraad gevind.

“Die polisie het ’n man in sy vroeë vyftigerjare op die toneel in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op die koper,” lui die polisieverklaring.

Sodra die man aangekla is, sal hy in die Paarl-landdroshof verskyn.

Lede van die gemeenskap word aangemoedig om onwettige aktiwiteite by 08600 10111 aan te meld of die MySAPS-selfoontoepassing te gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article