Polisievoertuie is in St. Francislaan gesien tydens ’n onlangse klopjag by ’n vermeende dwelmsmokkelhuis. Inwoners meen egter die misdadige bedrywighede gaan steeds in die straat voort.Foto:


Inwoners van Noorder-Paarl het onlangs ’n griefskrif (memorandum) aan die Paarl-polisie oorhandig oor hul ongelukkigheid oor vermoedelik onwettige aktiwiteite wat glo by twee huise in dié buurt plaasvind.

Volgens die inwoners lok die vermeende verdagte bedrywighede by die betrokke huise in St. Francis- en St. Augustinelaan ongewenste karakters na die buurt, wat dikwels voor sonop en in die nag by die huise aangaan.

Inwoners beweer daar word met dwelms handel gedryf en die verdagte mense handel ook met gesteelde goedere in hul buurt.

“Dieselfde mense loop soms opsigtelik met groot hoeveelhede geld in ons strate rond.”

Luidens die griefskrif word dieselfde verdagte mense by beide huise opgemerk en beweeg hulle dikwels tussen die twee plekke.

Die inwoners meen ook dat die kinders in die buurt nie meer veilig by ’n nabygeleë parkie kan speel nie, omdat die parkie na bewering vir dwelmhandel gebruik word en leeglêers lê daar rond.

Hulle sê ook dat die “verdagte aktiwiteite” wat by die parkie aanvanklik meestal in die dag plaasgevind het, nou tussen 21:30 tot omstreeks 02:30 in die nag plaasvind.

In die griefskrif noem die inwoners ook voordat die polisie by die betrokke huis in St. Francislaan opdaag, lyk dit asof goedere uit die huis na die aangrensende parkie ontruim word.

“Verder is die voertuie wat die huise besoek, ook bekend vir jaag en onverskillige gedrag in die strate. Hulle ignoreer padverkeersreëls en verkeerstekens in die buurt.”

Hulle noem ook dat inbrake meer gereeld in die buurt plaasvind.

Die griefskrif maak ook melding van klopjagte wat al voorheen in St. Francislaan gedoen is en hulle meen indien die polisie nie daadwerklik teen die misdadigers optree nie, meer misdadigers in Noorder-Paarl gaan intrek.

“Die feit dat hierdie smokkelhuis in ons gemeenskap nie net voortbestaan nie, maar floreer, open die moontlikheid dat ander smokkelaars in ander huise in die breër Noorder-Paarl-gebied kan inbeweeg. Hiervan is daar reeds sprake.”

Die inwoners wou weet wat die polisie doen om die eienaar van die huis te vervolg en hoe die polisie kan help om hul buurt veiliger te maak. Die inwoners het ook genoem hulle is bereid om hul volle samewerking aan die polisie te gee om te help dat die misdrywe in hul buurt hokgeslaan word.

Die polisie het terugvoering aan die klaers gegee, maar die inwoners meen die terugvoering is teleurstellend.s

Oor die ongewenste karakters wat in die strate loop en die toestroming van mense by die huise, het die polisie geantwoord dat lede van die publiek die reg het om enige plek te loop en te woon.

Die polisie het ook gesê dat dit nie ’n misdaad is om geld rond te dra nie, tensy dit direk verband hou met ’n misdadige aktiwiteit wat bewys kan word.

“Die lede van die publiek wat hierdie voorvalle vasgestel het, moet verklarings verskaf dat hulle die relevante mense met hul toestemming deursoek het,” lui die terugvoering.

Die polisie sê ook dat verklarings gegee moet word wat bewys lewer dat dwelms werklik verkoop of afgelewer word.

“Ongelukkig behels dit ‘hoorsê’ as geen bewys gelewer word nie.”

Die polisie het oor die bewerings – dat goedere uit die huis ontruim word voordat die polisie kom – ook as hoorsê afgemaak omdat geen bewyse daaroor bestaan nie.

“Gemeenskapslede wat hul griewe lig en praat oor misdrywe voordat hulle die polisie kontak, help nie om die misdaad te voorkom nie. Daar moet kennis geneem word dat die ‘skuldiges’ waarna in die memorandum verwys word, ook op sosiale media is en selfs op openbare sentimente geantwoord het,” lui die polisie se terugvoering.

Die inwoners het ook aan die polisie genoem dat die gemeenskap reeds probeer het om die huiseienaars te nader, maar dat hulle met geweld asook skade aan hul eiendom gedreig is. Die polisie het die inwoners daarop gewys dat klagtes van intimidasie en saakbeskadiging by die polisie aangemeld moet word.

Die polisie het ook genoem dat die huiseienaar nie net eenvoudig uit sy huis verwyder kan word nie.

Hulle verwys ook die inwoners om die klagtes van leeglêers in die parkie, waar munisipale verordeninge oortree word, by die munisipaliteit se wetstoepassings-afdeling aan te meld, en waar padreëls oortree word, moet die plaaslike verkeersdepartement geskakel word.

Na aanleiding van die vermeende nagtelike bedrywighede in die parkie raai die polisie die inwoners aan om hulle te kontak wanneer dit gebeur.

Oor sprake dat smokkelaars in ander huise gaan intrek, het die polisie die inwoners aangeraai om verklarings af te lê hieroor sodat dit ondersoek kan word.

Die polisie sê ook dat daar volgens hul rekords en statistieke egter ’n afname in inbrake in die Noorder-Paarl-omgewing is met geen inbrake wat die afgelope maande in St. Francislaan aangemeld is nie.

“Gemeenskapslede kan die sub-forum of buurtwag-vergaderings bywoon waar misdaad bespreek word. Indien misdaad nie aangemeld word nie, kan dit nie as ’n probleem voorgehou word nie.

“Die Paarl SAPD het talle optredes in die omgewing en omliggende gebiede met baie suksesse gehou, en sal voortgaan om dit te doen. Lede van die publiek word versoek om betrokke te raak by die Sektor 3-buurtwag- en forumvergaderings waar bedrywighede bespreek word en sake op ’n beheerde wyse met alle relevante partye beskikbaar, bespreek kan word.

“Sosiale media is nie die oplossing vir die probleem nie en ook nie die platform om die polisie ‘sleg te sê’ nie. Deur inligting deur middel van verklarings en bewyse te verskaf, kan dit eerder die polisie help om deursoekingslasbriewe van die departement van justisie te bekom. Ons as SAPD moet die grondwet van die land handhaaf en binne die bestek van die wet optree,” sluit die polisie se terugvoering af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article