Ek wil graag dankie se aan die “Paarl East Gang Unit”-polisielede wat my Maandagmiddag in die Chicago-woonbuurt, Paarl-Oos, bygestaan het om gesteelde goedere terug te vind.

My iPhone het Maandagoggend op die Paarl-gholfbaan weggeraak en toe ek die nommer ná die tyd bel, was dit reeds afgeskakel.

Nog iemand het aangemeld sy foon is ook weg, en toe die fone ná ’n uur aangeskakel is, het ons via “find my phone” gesien dat die fone by ’n adres in Chicago in Paarl-Oos is.

Ons het die aangeleentheid dadelik by die polisie aangemeld en die polisielede was binne minute beskikbaar en het my vergesel na die adres waar dit geblyk het die fone aangeskakel is.

Ná ’n soektog van meer as ’n uur (die twee verdagtes het rondbeweeg om die fone te probeer verkoop), het ons al twee fone teruggekry en die diewe is in hegtenis geneem.

Een van hulle het selfs die diefstal erken.

Ek wil hiermee graag AO Conradie, sers. Stipps, sers Jacobs, konst. Van den Heever, konst. Linganiso en konst. Anthony almal bedank vir hul ywer en bereidwilligheid om my by te staan en ook in die proses misdaad te bekamp deur diefstal te bestry.

Dit word waardeer en in ’n tyd waar die polisie dikwels negatiewe publisiteit ontvang, beteken dit vir my baie.


Kobus Griesel,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article