Katriena Smit (68)
Katriena Smit (68)

‘n Soektog waarby die polisie se honde-eenheid betrek is, is in Gouda onderweg nadat ‘n 68-jarige vrou, wat vermoedelik die alzheimersiekte het, verlede Donderdag (17 Julie) spoorloos verdwyn het.

Die polisie en gemeenskapslede het vandeesweek die beboste landelike areas aan die ooste van Gouda gefynkam opsoek na Katriena Smit wat volgens haar dogter op pad huistoe vermoedelik verdwaal het.

Volgens Lee-Ann Smit, haar dogter, het haar ma, stiefpa en hul kleinkind Donderdag (17 Julie) huistoe gestap.

Die een oomblik het haar ma nog agter gestap en toe haar stiefpa weer omkyk, was auntie Katriena weg.

“My stiepa het toe hier by die huis kom vertel dat hy nou nie weet wat van haar geword het nie.

“Ons het toe dadelik na haar gaan soek. Toe dit Donderdagaand begin donker raak was ons regtig bekommerd.

“Ons het deur die nag na haar gesoek. Daar was mense wat gesê het hulle het haar naby die vleilande by die waterblommetjies gesien. Dis toe waar ons daardie nag gaan soek het,” vertel auntie Katriena se dogter.

Volgens haar lei haar ma vermoedelik aan alzheimersiekte, maar dat dit nog nie deur ‘n dokter by haar gediagnoseer is nie.

“Die laaste tyd was sy baie deurmekaar. Sy het gepraat van mense uit haar grootwordjare daar in Porterville. Mense wat ons nie ken nie.

“Hy het na hulle gesoek en ons het toe later uitgevind dat baie van die mense van wie sy praat lank reeds oorlede is.

“Sy is glad nie iemand het rondwaal nie so ons vermoede is dat sy moontlik deurmekaar het en dalk iewers is sonder dat sy weet haar familie soek is. Ons wense is dat ons haar veilig sal vind,” het Smit gesê.

Volgens Smit het haar stiefpa tydens Donderdagaand se soektog sy been in ‘n sloot beseer.

Hy is tans in die Porterville-hospitaal.

‘n Vermiste-persoon-saak is by die Tulbagh-polisiekantoor geopen.

Die polisie kon nie by navraag vir kommentaar bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article