Eienaars aan die oewer van Spruitrivier in Wellington is bly dat ’n plan bewerkstellig word om probleme hok te slaan. Sommige eienaars bly wel skepties.Foto: Heleen Rossouw

Credit: SYSTEM

Die nuwe jaar hou positiewe vooruitsigte in vir huiseienaars aan die oewer van die Spruitrivier, danksy ’n instandhouding-bestuursplan wat in November aan hulle voorgelê is.

Die Spruitrivier is ’n 14 km lange bron van water en prag wat deur Wellington kronkel en ontspring in die Hawequaberge. Dit is ook ’n bron van kommer weens erosie binne die 100-jaar- vloedlyn, besoedeling en ongewensde bosslapers wat daar skuil.

Soos voorheen berig, is daar haweloses wat slaapplek in die rivier se sykanale uitgrawe en sodoende beskadig. Daar was selfs klagtes van inwoners aan die oewer, soos Konstant Ferreira in Pentzstraat, wat na bewering al deur sommige van die bosslapers gevloek en gedreig is.

Xanté Eberhardt van die ingenieursfirma Zutari het in haar voorlegging aan belanghebbendes vertel dat hulle reeds namens Drakenstein-munisipaliteit die nodige magtiging van relevante departemente verkry het om die instandhouding te doen.

Dit is om te verseker dat dié instandhouding-bestuursplan aan die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en omgewingsimpakevalueringsregulasies van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkeling voldoen.

Die implementering van die ingryping hou lae risiko’s in, aangesien die rivierstelsel reeds gedegradeer is. Die projek sal ook help met die bekamping van onwettige aktiwiteite langs die rivieroewers.

Indien dit nie geïmplementeer word nie, sal dit erosieskade aan eiendomme langs die rivier veroorsaak en so ook gevaar vir mense inhou, aldus die voorlegging.

In haar verslag dui Eberhardt aan dat die huidige toestand van die rivier veroorsaak word deur bloekomplantasies wat op die berghange voorkom, met swartwattelbome wat langs die bo- en middelloop van die riviergang versprei is.

Die rivier word dus toenemend gedegradeer en gekanaliseer soos dit stroomaf vorder, meen sy.

Die oewersone bestaan ook hoofsaaklik uit uitheemse plantegroei met min inheemse oewer- of binnestroom-plantegroei-oorblyfsels. Die oewer is steil en erg geërodeer.

Eberhardt het verder vooruitsigte rakende die pad vorentoe aangebied. Dit behels dat elke relevante grondeienaar hul terugvoer en toestemming sal moet gee met verwysing na die instandhouding-bestuursplan vir die Spruitrivier.

Dit sluit in ’n konsepplan met stawende dokumente wat vir kommentaar gesirkuleer moet word. Daarna behoort alle kommentaar en terugvoer by die finalisering van die bestuursplan ingesluit te word, wat dan vir finale goedkeuring ingedien sal word.

Alle belanghebbendes sal in die finale besluit van die uitslag geïdentifiseer word.

In die geheel word daar deur oewereienaars verwys na die stedelike rivieranalise deur Aurecon ongeveer 10 jaar gelede ’n verslag oor die Spruitrivier gelewer het.

“Klomp jare gelede was daar ook so ’n plan op- en voorgestel aan die eienaars op die oewer. Dit was destyds opgestel teen ’n reusebedrag van miljoene rande, maar daar het uiteindelik niks van gekom nie,” meen ’n ander anonieme eienaar.

Hoewel dit vir inwoners goed is om te hoor planne is weer opgestel, bly hul maar steeds skepties of dit inderdaad water sal dra.

“Wie monitor die werk en konsultasie waarvoor die belastingbetaler weer moet opdok?”

Dié eienaar sê ook dat daar nog geen kontak deur ’n ingenieursfirma met hom as die eienaar van ’n huurhuis op die oewer gemaak is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article