Inwoners van Weltevrede is vuisvoos oor die toenemende plakkers op hul voorstoep.
Inwoners van die gebied het Paarl Post vroeër vanjaar gekontak oor twee afsonderlike gevalle van onwettige plakkers in die gebied.
Op foto’s wat die publiek verskaf het, kan gesien word dat plakkers op munisipale eiendomme soos die Weltevrede-sportterrein en Pelikaanstraat nes geskrop het.
Hierdie foto’ is weer na die Drakenstein-munisipaliteit gestuur vir kommentaar.
Gerald Esau, die munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, sê: “Sover ons kennis strek, was daar geen onwettige besettings op die Weltevrede- of Pelikaan-sportterrein nie.”
By verdere navraag is vasgestel dat daar wel ’n geval van onwettige plakkery in Pelikaanstraat is, en nie Pelikaan-park nie.
Oor moontlike plakkery op die Weltevrede-sportterrein het Esau gesê dat daar 24-uur-sekuriteit by Weltevrede is en dat “geen onwettige plakkers toegelaat word nie”.
“Daar is geen onwettige plakkers op die Weltevrede- of Pelikaan-sportterrein nie,” het Esau volgehou.
Maar fotobewyse wat in besit van Paarl Post is, vertel ’n heel ander storie hieroor.
Ook in die Paarl vier onwettige plakkery hoogty.
Langs die Bergrivier naby die taxi-staanplek in Lady Greystraat rig plakkers gereeld strukture op.
Dan is daar die jare lange gemeenskap wat onder die Markstraatbrug plak.
By Hugenote-treinstasie is daar nou ook ’n plakkerskamp wat al hoe groter word. Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde van onwettige plakkery in die vallei.. Heleen.Rossouw@paarlpost.co.za





