Ondanks wetstoepassers se pogings om haweloses op die hoek van Loop- en Bredastraat in die Paarl te verwyder, was hulle Dinsdagaand steeds daar.


’n Groep haweloses wat die afgelope twee jaar onder ’n boom op die hoek van Loop- en Bredastraat in die Paarl plak, is nou nie meer net ’n oorlas vir inwoners in die gebied nie, maar selfs sakeondernemings begin nou kla dat die onhigiëniese en dikwels gevaarlike gedrag van dié groep sleg is vir sake.

Die gebied waar die groep plak, is langs die departement van arbeid se kantore geleë en ’n klipgooi van die Drakenstein- munisipale hof.

’n Toesighouer by van een van die nabygeleë sakeondernemings het vandeesweek op voorwaarde van anonimiteit gesê hoewel sy simpatie het met die probleem van haweloses in Drakenstein, kan hierdie groep se gedrag nie geregverdig word nie.

“Die meeste van hulle gebruik dwelms en hulle doen dit openlik. Hulle doen hul private besigheid in die openbaar. Daar is dikwels bakleiery en dit is veral erg van Vrydagmiddae af.

“Hulle het nie net ’n oorlas vir ons kliënte geword nie, maar ook ’n gevaar. Ons kliënte wil nie meer in daardie straat parkeer nie en al die ondernemings in die omgewing deel dieselfde sentiment.”

Volgens die toesighouer was sy ook al self by verskeie geleenthede ’n slagoffer van misdaad.

“Ek parkeer nie meer my motor daar nie, want daar is al twee keer gate in my wiele gesteek. Dit was elke keer op ’n Vrydag- of ’n Saterdagmiddag.

“Een van die haweloses het ook aan my erken dat haar vriendin ’n mes gebruik het om my motor se bagasiebak te probeer oopmaak. My bagasiebak kan tot vandag toe nie oop nie.

“Hulle het eenkeer een van ons hondjies afgevat. Ek moes toe die polisie bel en gelukkig het ons die hond teruggekry. Hierdie groep veroorsaak werklik groot probleme vir ons.

“Ons het al soveel keer die situasie by wetstoepassers aangemeld. Die groep word verwyder en keer dan maar net later weer terug. Ons is raad­op.”

Eda Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir openbare veiligheid, het by navraag gesê die munisipaliteit is bewus van die situasie en bevestig die groep is inderdaad hawelose individue.

“Ons wetstoepassingsafdeling patrolleer die gebied daagliks en verwyder hierdie haweloses gereeld. Ons voer ook gereeld optredes saam met die Paarl-polisie uit, wat fokus op die onwettige besit van dwelms, vuurwapens en/of die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.”

Volgens Barnard word enige oortredings ingevolge die geldende wetgewing hanteer.

Sy sê die munisipale afvalbestuursafdeling help ook met die skoonmaak van gebiede tydens hierdie optredes.

Barnard het benadruk dat toepaslike munisipale verordeninge van toepassing is.

“Ons wetstoepassingsafdeling, met die hulp van ander belanghebbendes, handhaaf hierdie verordeninge gesamentlik.

“Ons gee daagliks aandag aan geïdentifiseerde brandpunte deur hierdie gebiede te patrolleer en die toepaslike aksie te neem.”

Barnard het verder gesê die munisipaliteit se maatskaplike- ontwikkelingsafdeling werk aktief met die hawelose gemeenskap en moedig hulle aan om weer met hul families te herenig, waar moontlik.

“Baie van die hawelose individue kom uit verskillende gebiede en pogings word aangewend om hulle met hul herintegrasie te ondersteun.”

Sy het gesê die munisipaliteit se nuwe skuiling vir haweloses is tans 74% voltooi. Die openingsdatum sal aangekondig word sodra dit bevestig is.. Enige probleme met haweloses kan by Drakenstein se slim-veiligheidsnetwerk- (DSSN) se beheerkamer, wat 24/7 oop is, by 021 807 8508 aangemeld word.

Beamptes sal uitgestuur word om die saak te hanteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article