Mikayla Barnard van die Hoër Meisieskool Paarl is Paarl Post se junior Sportster vir Junie.Foto:

Credit: Social Media Paarl GHS

Mikayla Barnard (12), ’n leerder aan die Hoër Meisieskool Paarl, is gekroon as Paarl Post se junior sportster vir 2022 nadat sy die meeste stemme van lesers ontvang het vir haar toewyding aan tweekamp en tennis.

Die Barnard-gesin bestaan uit vyf lede van wie Mikayla die oudste kind is. Sy woon in die Paarl saam met haar pa, Conrad, haar ma, Anel, haar sussie, Kaitlin, in graad vier, asook haar boetie, Christian, in graad een.

“Ek het met tweekamp in graad een begin, en het dit sommer net vir die lekkerte gedoen, maar het toe al besef ek geniet dit vreeslik baie,” het Mikayla verduidelik.

Sy het bygevoeg dat hardloop meer natuurlik vir haar is as die swem.

Die Suid-Afrikaanse tweekampkampioenskap het gedurende April in Gqeberha plaasgevind wat bestaan het uit 800 m hardloop en 50 m swem.

“Dit was ’n tawwe race, in nat en koue weer, maar ek het my persoonlike beste tyd geswem,” het Mikayla gesê.

Tweekamp is nie hiérdie sportster se enigste liefde nie, en sy erken sy geniet dit ook om netbal, hokkie, en tennis te speel – sporte waarin sy addisionele mylpale behaal het.

“Ek het hierdie jaar vir die Wes-Kaapse Cavaliers-tennisspan gespeel, en dit is vir my ’n ongelooflike sport, want dit is net jy en jou raket op die baan,” het Mikayla verduidelik.

Vir netbal is Mikayla deur ná vele rondes van proewe, en gekies vir die Wes-Kaapse Willows-netbalspan wat in Junie en Julie aan die Suid-Afrikaanse toernooi in Boksburg deelgeneem het.

“Ek is hierdie jaar ook vir die Boland Shiraz-hokkiespan gekies en ons het aan die Streektoernooi deelgeneem in Julie, wat by Paarl Gimnasium plaasgevind het.

“My vakansie was propvol spansport, maar ek het elke oomblik daarvan geniet. My ouers en gesin ondersteun my elke oomblik,” volgens Mikayla.

Die junior sportster verduidelik haar oefenprogram wissel volgens die sportseisoen. In die somer hardloop sy en swem drie tot vier keer per week.

“In die winter fokus ek op spansport en oefen twee tot drie keer per week hokkie en netbal,” het Mikayla gesê.

Tennis word dwarsdeur die jaar beoefen, waar een tennisles per week ingewerk word.

“In die grendeltydperk het ek fiks gebly deur aan te hou oefen in ons garage. Ons hele gesin het ook saam geoefen deur te gaan hardloop in die kompleks waar ons woon.

“Daar is altyd ’n manier om te kan oefen, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Dit was eintlik baie pret,” volgens Mikayla.

Toekomstige doelwitte vir hierdie sportiewe junior sluit in om kleure te ontvang op provinsiale of nasionale vlak.

“Een van my ander grootste doelwitte in sport is om eendag ’n toptennisspeler te word,” het Mikayla bygevoeg.

“Sport het my al so baie dinge in die lewe geleer. Dit leer my om hard te werk, deursettings­vermoë, en ook hoe om teleur­stellings te oorkom en weer te probeer, het sy verduide­lik.

Haar grootste inspirasie, buiten Rodger Federer, is haar pa wat self vir 15 jaar professioneel rugby gespeel het, en vir Mikayla goeie raad en ondersteuning bied.

“My beste is altyd goed genoeg vir my pa,” voeg Mikayla by.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article