Onderwysers van die Paarl en Wellington is glo onder diegene wat Donderdag (9 Maart) in hegtenis geneem is vir hul vermeende betrokkenheid by die onregmatige bestuur van sommige leerders se vervoertoelaes, wat deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) beskikbaar gestel is.
Volgens brig. Novela Potelwa, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, is altesaam 17 mense onderskeidelik in die Paarl, Wellington, Atlantis en Philadelphia in verband hiermee in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklagte van diefstal, vervalsing en bedrog van sowat R12 miljoen.
Die inhegtenisnemings is deur die Wes-Kaapse polisie-eenheid vir handelsmisdaad uitgevoer. Volgens die polisie is nege vroue en agt mans tussen die ouderdomme 35 en 60 in hegtenis geneem.
Volgens inligting hou die beweerde misdrywe nie verband met die skole waar die Paarl- en Wellingtonse onderwysers werk nie.
Bronagh Hammond, die WKOD-woordvoerder, het by navraag gesê die vermeende wanbestuur het by ’n skool in Atlantis plaasgevind het.
“Die WKOD het die provinsiale forensiese ondersoekeenheid in 2007 reeds gevra om die vermeende finansiële wanbestuur by Atlantis Sekondêre Skool te ondersoek. Die aangeleentheid is by die polisie aangemeld en ons is bly dat die Wes-Kaapse handelsmisdaadeenheid in hierdie verband opgetree het. Ons is bewus van agt WKOD-werknemers wat aangekeer is, van wie vyf personeellede by Atlantis Sekondêr is. Die distrikskantoor bied ondersteuning aan die skool. Ons is ook bewus van ’n oudpersoneellid sowel as ’n aantal voormalige skoolbeheerliggaamlede wat in hegtenis geneem is,” het Hammond gesê.
Potelwa het gesê die polisie het die inhegtenisnemings ná maande se ingewikkelde ondersoekwerk uitgevoer.
Na wat verneem word sou die verdagtes Vrydag (10 Maart) die eerste keer in die Atlantis-landdroshof verskyn.
Hul verskyning was ten tyde van hierdie plasing nog nie bevestig nie.
Die beskuldigdes se name sal eers bekendgemaak word sodra hulle in die hof verskyn het.





