Die Jacobs Sport Assist-stigting (JSA

Die Jacobs Sport Assist-stigting (JSA), wat bestaan uit rugbyspelers van skole in onder meer die Paarl en Wellington, het verlede Sondag (3 November) by die jaarlikse News24 Forward Faster 7’s-toernooi in Stellenbosch koning gekraai.

Dié toernooi vind jaarliks in oorleg met die Blitsbokke se besoek aan Stellenbosch plaas, waartydens verskeie skole van oor die land heen ook aan die toernooi deelneem.

Die JSA-stigting se senior span het die Hoërskool Bellville in die eindstryd van die tweedaagse toernooi met 24-7 geklop om as algehele wenners gekroon te word.

Die senior span het in die halfeindronde teen die Hoërskool Monumentpark te staan gekom en met 5-7 gewen.

Die groep bestaan uit leerders van die hoërskole Bergrivier en Weltevrede in Wellington, en die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl.

“Dit was ’n geskiedkundige oomblik, want nog nooit in die geskiedenis van die toernooi het ’n groep, wat bestaan uit spelers van hoofsaaklike plattelandse skole, die toernooi gewen nie,” het Joshua Jacobs, die groep se stigter en hoofafrigter, aan Paarl Post gesê.

Joshua Jacobs, stigter van Jacobs Sport Assist (JS

Joshua Jacobs, stigter van Jacobs Sport Assist (JSA).

Jacobs het die JSA-stigting in 2021 op die been gebring nadat hy ná twee jaar ’n rugbyafrigtingskursus voltooi het.

“Ek het daarna so bietjie deur die land getoer en was ook ’n rukkie oorsee. Ek het egter nog altyd hierdie begeerte in my hart gehad om op die een of ander wyse in my gemeenskap terug te ploeg.

“Dit is toe ek in 2021 met die idee van die stigting vorendag gekom het en sedertdien, met die min wat ons het, help ons om jong manne se rugbydrome te verwesenlik.

“Daar was oomblikke in die toernooi waar ek nie kon help as om ’n traan te stort nie. Die manne het hul harte uit gespeel en was toegewyd om hul skole en gemeenskappe te verteenwoordig.

“Hierdie wen was vir ons gewis ’n bewys wanneer daar dryfkrag is, kan ons ten spyte van ons beperkte hulpbronne suksesvol wees.

“Ons kan van hier af maar net hoop dat borge wel hierdie dryfkrag sal raaksien en aan boord sal kom,” het Jacobs gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article