Pink Ladies, ’n spontane, vrywilliger-organisasie wat ontwikkel het onder die studente wat ’n dagsorg-kursus by die Breytenbach-sentrum op Wellington volg, het pas begin om te help met die versorging van bejaardes by Silwerkruin op Wellington.
Volgens Esther Kotze van die boekwinkel by die Breytenbach-sentrum en wat die vrywilligers bystaan wat Pink Ladies wil word, verrig die groepie vrywilligers belangrike werk by Silwerkruin
“Almal wat as Pink Ladies vrywillige werk wil doen, is studente wat by die Breytenbach-sentrum as dagsorgwerkers opgelei word. Hulle het spontaan besluit om uit dankbaarheid oor die geleentheid wat hulle kry om hulle vir ’n voltydse beroep voor te berei, die versorgers by Silwerkruin by te staan.”
Die vrywilliger-organisasie is verlede jaar vir die eerste keer in Wellington gestig. Die dagsorgstudente van die Breytenbach-sentrum help een oggend per week die voltydse versorgers by Silwerkruin met hul werk. Hul enigste vergoeding is ’n gratis ete wat Silwerkruin voorsien. Omdat die Pink Ladies nie klas loop op die een weeksdag wanneer hule by Silwerkruin hand bysit nie, betaal die Breytenbach-sentrum hul taxi-geld om weer in die middae by hul wonings te kom. Hierdie taxigeld het die sentrum in die vorm van donasies van die publiek bymekaar gemaak.
Vanjaar was daar nog nie sulke donasies nie maar die organiseerders by die Breytenbach-sentrum glo dat die publiek weer vanjaar, soos verlede jaar, ’n hand sal bysit om die taxi-geld bymekaar te kry. Persone wat so ’n donasie wil maak kan vir Esther Kotze by 083 465 8556 kontak.




