Die Kansa Paarl-tak het verlede week vroue gevier en die PTFP-projek van stapel gestuur.


Die plaaslike Kansa Paarl-sorgsentrum het vrouwees op 8 Augustus gevier.

Dr. Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, was die gasspreker en het die vroue geïnspireer om tyd vir hulself te maak – vir hul gesondheid, vir hul finansiële belange en ook vir ’n bederf.

Naomi Philander, ’n maatskaplike werker verbonde aan Kansa, sê “dit is so nodig in vandag se gejaagde lewe, veral met die agtergrond van kanker.”

Acroyd De Vries, ’n verteenwoordiger van Sanlam, het die vroue bedank vir die kardinale rol wat hulle in die gemeenskap speel.

Lyndon Jeftha van Paarl FM was die programkoördineerder en het gesorg dat die program in ’n ligte luim aangebied is.

Kansa Paarl het ook die geleentheid benut om die jaarlikse Pink Trees For Pauline (PTFP)-projek van stapel te stuur. Die projek is in 2010 begin en 14 jaar later is meer as 140 dorpe betrokke en meer as 100 000 kilometer pienk lap is verkoop.

Dr. Von Schlicht en Lorraine Marthinussen, ’n kankeroorwinnaar, het ter ondersteuning van kankerpasiënte twee boomstamme met pienk lap toegedraai.

PTFP het ook nuwe toevoegings tot die projek gehad in die vorm van oorbelle en ’n kopdoek met ’n verskil.

Kansa doen ’n beroep op ondernemings, skole en gemeenskapslede om die projek te ondersteun aangesien die geld wat ingesamel word, ten gunste van pasiënte se sorgbehoeftes aangewend word.

. Kontak die Kansa Paarl-tak by 021 873 6358 vir meer inligting oor die jaarlikse PTFP-projek. Bel ook Naomi Philander by 061 209 9426 met navrae oor die Kansa Paarl-tak of die PTFP-projek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article