Tolman Menzi en sy werkgewer, Lizel Steyn, deel ’n wonderlike werksverhouding, nes sy verhoudings met dié wat hy graag dien.


Brandstofverbruikers in Wellington sal die warm glimlag en gewillige hande van dié getroue Shell-petroljoggie nog lank onthou.

Tolman Menzi is sy naam, en hy vertel Paarl Post hy werk al ’n “leeftyd” vir die eienaar van die vulstasie in Kerkstraat, Lizel Steyn.

“Dit was my ma dié,” skerts die 62-jarige, wat Lizel om die skouer omhels.

“Ek is ouer as sy, maar sy was my ma. Ek het haar baie gehelp, en sy het my baie gehelp. Ek het niks probleme nie, ek werk baie lekker hier.”

Kom einde Junie sal Tolman sy geel-en-rooi hempie vir ’n laaste keer aantrek voordat hy amptelik aftree en die vallei groet.

Lizel ken Tolman sedert 2002 toe hy destyds by Gelderblom Motors in die Paarl begin werk het. Sy ag hom as een van haar “groot kinders”.

“Tolman kom al 20 jaar saam met my, en het in 2010 Wellington toe gekom toe ons dié vulstasie gekoop het. Hy is een van my staatmakers – altyd behulpsaam, uiters betroubaar en altyd op die uitkyk vir my.

“Ek kan nie ons onderneming sonder hom indink nie. Hy hou die jong joggies op hul tone en knoop altyd geselsies met klante aan. Ek het baie respek vir hom en gaan hom mis. Ek hoop van harte dat hy gelukkig en gesond sal bly wat sy toekomsplanne betref.”

Die diens van ’n petroljoggie kan omskryf word as ’n eentonige werk wat nie juis opwindend is nie, maar ’n vergenoegdheid wat ’n skaars verskynsel is, straal uit Tolman.

Hoe kry jy dit reg?

“Dis net goeie diens. Hoe kan ek sê . . . ek is ’n baie goeie mens. Niemand kan my anders sê nie, want ek weet ek is ’n goeie mens,” vertel hy trots.

“Ek het my eie way,” antwoord hy op ’n vraag oor werksetiek.

“Die mense sê vir my: ‘Nee, man, Tolman! Wat gaan ons sonder jou doen? Moenie weggaan nie’,” spog hy.

Roné Sills van Wellington getuig van sy karakter en sê hy is baie geliefd onder die mense.

“Ek ken Tolman ook nou al jare. Toe ek begin Xhosa leer praat het, het ek gereeld ’n paar woorde met hom gesels, en dit het altyd so ’n warm glimlag op sy gesig gelaat. Ek het so baie liefde en respek vir hom, maar hy beweeg nou aan huis toe. ‘Ver van jou goed, naby jou skade,’ sal hy altyd sê.”

Lourens Blignaut van Lanista Computers sê Tolman is ’n groot Bloubul-ondersteuner. “Ek ook. Ons praat nie oor die brandstof- en oliepryse by die petrolpomp nie – ons praat net rugby,” vertel hy.

“Hy is werklik ’n goeie mens met ’n diener se hart, ongelooflik nederig en nooit omgekrap nie. As hy my sien aankom, kom hy dadelik na my motor toe.”

Tolman se toekoms strek tot in Transkei, waar hy sy eie huis gebou het.

“My huis word sleg besteel daai kant, en ek gaan maar om my huis nou mooi op te pas waar ek saam met my seun en broers sal woon.”

. A loyal petrol attendant in Wellington, Tolman Menzi (62), is beloved by many whom he serves on a daily basis. He will be retiring at the end of June, leaving many of his favourite clients sad to see him go.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article