Die leier van die GOOD-party in Drakenstein, Peter de Villiers, het skriftelik as raadslid bedank.
Dié voormalige Springbok-rugbyafrigter het verlede jaar die politieke speelveld betree toe hy as die burgemeesterskandidaat vir die GOOD-party in Drakenstein gestaan het.
Janke Tolmay, woordvoerder van die GOOD-party, het Woensdagoggend gesê hoewel De Villiers as raadslid bedank het, sal hy steeds ’n lid van die GOOD-party wees.
“Coach (soos hy in die party bekend staan) het bedank om op ander gebiede te fokus en om meer tyd saam met sy gesin deur te bring sedert die afsterwe van sy vrou vroeër vanjaar,” het Tolmay gesê.
De Villiers se vrou, Theresa, is onlangs dood nadat sy in ’n swembad geval het.
Tolmay sê De Villiers sal steeds saam met die party werk met die projekte wat hy van stapel gestuur het asook om toegang tot sport- en ontspanningsgeriewe in die Paarl te verbeter.
“Coach bly onwrikbaar verbind tot die strewe na sosiale geregtigheid.” Sy sê ook dat die party hoop om De Villiers se terugkeer as openbare amptenaar te sien.
Die speaker van Drakenstein, Koos le Roux, het bevestig ’n skriftelike bedanking, met effek 31 Mei 2022, is deur sy kantoor ontvang.
“Raadslid De Villiers word bedank vir sy bydrae as openbare verteenwoordiger in diens van die gemeenskap en aan die munisipale raad en ons wens hom alle voorspoed toe met sy toekomsplanne.”
Le Roux het verduidelik dat sodra ’n skrywe van die GOOD-party ontvang word, sal die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in kennis gestel word van die vakature.
“Die OVK het daarna die verantwoordelikheid om die naam van die volgende persoon op die proporsionele lys van die GOOD-party deur te gee, wat dan sy of haar taak as raadslid sal opneem.”





