Peter de Villiers is weer as GOOD-raadslid by die Drakenstein-munisipaliteit aangestel.

Credit: SYSTEM

Peter de Villiers, die bekende voormalige Springbokrugbyafrigter, is terug in die politiek.

Hy is gereed om sy gemeenskap te bedien soos hy in 2021 tydens die plaaslike regering verkiesing beloof het.

Die politieke party GOOD, het op 4 Januarie in ’n persverklaring aangekondig dat De Villiers (65) weer as ’n raadslid in die Drakenstein-munisipaliteit sal dien.

GOOD het die oud-afrigter genomineer om ’n vakature in die Drakenstein-raad te vul nadat oud-GOOD-raadslid Edgar Arendse se lidmaatskap aan GOOD ná ’n interne dissiplinêre proses beëindig is.

De Villiers was in die 2021 munisipale verkiesingveldtog GOOD se burgemeesterskandidaat vir Drakenstein. GOOD het in die verkiesing goed gevaar en het vier setels in daardie raad behaal, met De Villiers aan GOOD se stuur.

Hy het egter in Julie 2022 weens persoonlike redes uit die raad bedank. De Villiers se vrou Theresa (62) het in April verlede jaar by familie in Gqeberha gaan kuier en is daar dood in ’n swembad aangetref. Die Oos-Kaapse polisie het met die ondersoek na haar dood vuilspel uitgeskakel.

Theresa se dood was ’n tweede harde slag vir De Villiers aangesien sy dogter Odille Monk (28) ook in 2019 haar stryd teen kanker verloor het.

Maar nou is De Villiers weer reg vir aksie.

“Ek is gereed om voort te gaan waar ek opgehou het. Ek sien uit na al die uitdagings wat met hierdie geleentheid gepaardgaan en sal my bes doen om my gemeenskap en die mense van Suid-Afrika te dien, soos ek nog altyd gedoen het”, het de Villiers oor sy nuwe aanstelling gesê.

Volgens GOOD se persverklaring is De Villiers se terugkeer ’n welkome hupstoot vir die party in hul poging om saam te week vir die 2024-verkiesing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article