Die MK-lid en voormalige Springbokrugby-afrigter van die Paarl, Peter de Villiers, het vandag (28 Augustus) weer in die streekhof in Malmesbury verskyn waar hy vrygespreek is op al drie aanklagte teen hom. Die aanklagte sluit in poging om ‘n seksuele misdryf te pleeg, seksuele aanranding en crimen injuria.

Die uitspraak kom nadat De Villiers op 13 Augustus by sy hofverskyning by monde van sy regsverteenwoordiger, Hennie le Roux van Geldenhuys en Jonker Inc in Langebaan, om ontslag aansoek gedoen het en dit goedgekeur is.

Die staatsaanklaer, Derrick Grootboom, het die aansoek teengestaan.

Le Roux het in sy kliënt se aansoek om ontslag op 13 Augustus aangevoer dat die staat die volle onus van bewys dra om De Villiers se skuld bo redelike twyfel te bewys, en dat dit betwisbaar is of De Villiers die beweerde oortredings gepleeg het.

Le Roux het beklemtoon dat die staat slegs steun op een enkele staatsgetuie en die klaagster se hoof by die Good-party, Brett Heron, wat nie eerste kennis gegee het van die voorval nie, asook op die getuienis van ’n mediese dokter wie se J88-verslag ligte beserings toon.

Hy het aangevoer dat die beserings nie duidelik die beweerde aanval kan bevestig nie en dat die hof moet bespiegel oor hoe dit ontstaan het. Volgens De Villiers se regslui was die klaagster ook ontwykend en selektief in haar antwoorde en het haar getuienis teenstrydighede bevat.

Die saak, het Le Roux in die aansoek om onstlag gesê, is “op sigwaarde hoogstens net immoreel en nie onwettig nie.”

Dit was ‘n emosionele dag in die hof met die klaagster, Patricia Lopez, wat geskok was en steeds beweer dat De Villiers nie die waarheid gepraat het nie.

LEES OOK: Uitspraak binnekort in Peter de Villiers-saak verwag

“My hele lewe het nou in my gesig ontplof. Iemand gaan vir my moet verduidelik hoe ‘n misdadiger in die land meer konstitusionele regte het as ek en my kinders,” het Lopez aan Paarl Post gesê.

Op die vraag of sy die saak verder gaan voer, het sy gesê: “Ek moet my gesin nou beskerm.” Volgens haar faal die regstelsel vroue daagliks.

Die VF Plus-raadslid Amber Booysen het ook haar stem dik gemaak en gesê dié uitspraak diskrimineer teen die regte van vroue en kinders.

De Villiers is daarvan beskuldig dat hy op 30 Januarie 2023 ‘n lid van die Good-party, Patricia Lopez, in haar huis in Kalbaskraal buite Malmesbury seksueel aangerand het deur haar te probeer soen en op ‘n bed in haar huis vas te pen.

De Villiers en Lopez het ten tyde van die voorval saam gewerk aan ‘n verkiesingsveldtog vir die Good-party in Grabouw. Lopez was die administrateur hiervan en De Villiers die bestuurder.

Le Roux het buite die hof gesê: “Die landdros het reg en geregtigheid laat geskied. Dit beteken ons grondwet word nog deur landdroste ernstig opgeneem. Duidelik is hy [De Villiers] onskuldig. Die klagte sou absoluut politiek gemotiveerd gewees het. Die man se lewe het stil gestaan vir ‘n geruime tyd. Hy het vidikasie gekry, dit is al wat saak maak.”

Die landdros het in haar uitspraak gesê, om De Villiers in die getuiebank te sit en “hierdie deurmekaar getuienisse wat die staat aangebied het, aan te vul, sou teen sy grondwetlike regte gedruis het.”

“Die man [De Villiers] kan nou aangaan met sy lewe,” het Le Roux bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article