Personeellede by die Drakenstein-munisipaliteit se Weltevrede-swembad in Wellington sal eersdaags berading ontvang nadat vyf gewapende rowers glo Saterdag (9 Desember) hier toegeslaan en die werknemers van verskeie besittings beroof het.
Volgens kol. Johan Barkhuizen, ’n polisiewoordvoerder in Wellington, het die rooftog omstreeks halftien die oggend in Bloekomlaan plaasgevind.
“Volgens die klaer (een van die slagoffers) was hy glo die oggend besig in die kantoor toe twee van die verdagtes die perseel binnegestorm het. Hulle het hulle aanvanklik as besoekers voorgedoen en wou weet of hulle ’n bespreking kan maak.
“Die twee verdagtes het glo vuurwapens uitgepluk en geëis dat die klaer hulle na die kluis vergesel. Hy (die klaer) het hulle toe na die kombuis gelei waar ander personeellede gevra is om op die vloer te lê. Die verdagtes het na bewering altesaam 11 selfone asook ’n onbekende bedrag geld gesteel,” sê Barkhuizen.
Volgens Barkhuizen was altesaam vyf verdagtes by die rooftog betrokke.
Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.
Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het die voorval by navraag aan Paarl Post bevestig.
“Die Weltevrede-swembad was vir ’n kort rukkie ná die voorval gesluit en sal na verwagting teen Donderdag (14 Desember) weer open. Al die werknemers wat ten tyde van die gewapende rooftog daar was, sal berading ontvang, wat deur die munisipaliteit aangebied sal word.”
Esau beskou die rooftog as ’n uitsonderlik ongelukkige voorval aangesien die nodige veiligheidsmaatreëls volgens hom by hierdie en alle ander munisipale swembaddens ingestel is en toegepas word.
“By alle swembaddens in ons munisipale gebiede is daar veiligheidswagte wat die persele dag en nag beman. Hulle is gewoonlik sigbaar by ingange en is veronderstel om die persele te patrolleer.
“Die munisipaliteit sal voortaan ook wetstoepassers na ons swembaddens ontplooi vir bykomende veiligheid,” sê hy.
Esau sê te midde van die voortslepende hittegolf oor dele van die land heers ’n verwagting dat munisipale swemgeriewe hierdie feestyd besig sal wees.
“Alle swembaddens het wel ’n voorafbepaalde kapasiteit wat bepaal word deur die grootte van die perseel en verskeie ontspanningsgeriewe. Daar is duidelike tekens wat hierdie kapasiteit aandui en hierdie syfers sal nie oorskry word nie.
“Ons doen dus ’n beroep op besoekers om op hierdie reëls te let en verantwoordelik op te tree. Geen alkohol, dwelms, skerp voorwerpe en bakleiery sal op die perseel toegelaat word nie. Hierdie reëls sal streng gemonitor word deur die wagte en wetstoepassers op die terrein.”
Hy sê alle munisipale swembaddens sal oor die feestyd oop wees.





