Die Pen Basson-krieketvelde is nou al vir 91 jaar die tuiste van Wellington-krieketklub.Foto: Heleen Rossouw


Die Wellington-krieketklub wat in 1897 gestig is, sal vanjaar sy 126ste bestaansjaar vier, wat dit amptelik een van die oudste sportklubs in die Wes-Kaap maak.

Die klub word sedert 1932, 91 jaar gelede, op die Pen Basson-krieketvelde in Burgstraat gehuisves, wat uiteraard ’n diep gewortelde nalatenskap in die gemeenskap beteken. Dit sluit die Wellington-rolbal en -tennisklubs in, sowel as vier krieketspanne, waarvan een ’n vrouespan is.

Lede van dié klub se bestuur, onder wie die voorsitter, Warren Groeneveld, en Eugene Stapelberg was dus geskok toe die terrein in Januarie as ’n beskikbare huurperseel deur Drakenstein-munisipaliteit in die Paarl Post geadverteer is.

“Daar is geen woord of waarskuwing hieroor teenoor die klub gerep nie. Ons moes op só ’n manier uitvind dat aansoeke vir die huur van die perseel oopgestel is,” maak Stapelberg beswaar.

Groeneveld wonder self waarom die huurtender in die openbaar geadverteer is sonder dat Wellington-krieketklub van hierdie voorneme ingelig is.

“Dit is onverstaanbaar hoekom daar ’n openbare huurtender geplaas is vir die Wellington-krieketklub se veld. Dit is immers die Pen Bassonvelde, só deur die Wellington-krieketklub gedoop ter ere van sy eertydse voorsitterskap wat tot samesmelting van die klubs in Wellington in 1991 gelei het.”

Vir hom laat dit heelwat vrae oor hoe gemeenskapsport in die Drakenstein-munisipaliteit geag word.

“Sport bou immers gesonde gemeenskappe,” meen Groeneveld.

By navraag sê Drakenstein se direkteur van gemeenskapsdienste, Gerald Esau, nuwe wetgewing vereis dat die munisipaliteit sy voorneme om te verhuur aan die publiek bekend moet maak.

“Die Municipal Asset Transfer Regulations (MATR) bepaal dat die hernuwing van die huurkontrak met die Wellington-krieketklub elke twee of drie jaar hersien moet word.”

Stapelberg verstaan dat daar nie teen wetgewing gestry kan word nie, “maar die manier hoe die prosesse ingestel word, veroorsaak verwarring wat maklik onmin kan saai”.

Buitendien, sê Stapelberg, is daar baie wat met die behoud van die Pen Basson-terrein kortkom.

Groeneveld gee wel krediet waar dit verdien is deur te sê dat die terrein baie goed in stand gehou en gesny word.

“Ons spog met een van die beste krieketblaaie in die Wes-Kaap. Die blad word deur ’n werknemer van die Drakenstein-munisipaliteit in stand gehou wat deur jare lange ondersteuning en opleiding deur klubbestuur geleer is om dié uitstekende blad te onderhou.”

Maar hy verduidelik dat die geboue vandag wel baie verwaarloos is, en dat daar reeds skrywe gerig om dit self te verf en verfraai met die publiek se hulp, asook verf van die munisipaliteit.

Pen Basson-velde

In 2006 het die klub ook ongeveer 50 inheemse bome om die veld geplant wat nou ’n pragtige gesig vorm. ’n Braaiplek is danksy geldinsamelings self deur die klub gebou.

“Die klub het oor die jare self die oefennette se matte en omringende heinings vervang. In 2006 het die klub ook ongeveer 50 inheemse bome om die veld geplant wat nou ’n pragtige gesig vorm. ’n Braaiplek is danksy geldinsamelings self deur die klub gebou,” voeg hy by.

Tog, sê Esau, is dit die munisipaliteit se plig om die velde en die klub (wat tans die klubhuis is) in stand te hou.

Wat wel kommer by die klubbestuur wek, is dat dié velde daagliks deur verskeie klubs byna oorbenut word.

Die terrein word deur ’n buiteklub vir oefeninge en wedstryde gebruik en hulle is reeds bekommerd omrede die Pen Basson-velde slegs oor een kolfblad beskik.

“LCS Cricket Academy maak Vrydae van die terrein gebruik. Naweke word klubwedstryde volgens die ligabepalings gespeel, terwyl ’n ander buiteklub meestal oor naweke (wanneer Wellington nie ’n tuiswedstryd het nie) ook daar speel. Laerskole van Wellington gebruik die veld vroegmiddag op weeksdae vir wedstryde.”

Groeneveld noem ook dat Drakenstein-munisipaliteit die Weltevrede-sportterrein in Vanwyksvlei so te sê gesluit het weens sekuriteits­redes en wys daarop dat geen onlangse instandhouding daar gedoen is nie.

“Daardie krieketveld en oefennette in Vanwyksvlei lê nou onbenut. Daar is ’n krieketveld, oefennette en ’n dubbel­verdieping-klubhuis wat verwaarloos staan met geen verduideliking nie,” sê hy. “Die gevolg is dat Bergrivier-krie­ketklub nie meer velde of oefengeriewe het nie. Nou is daar ’n versoek om daardie gemeen­skaps­klub op ons velde te laat oefen en speel terwyl ons fasili­teite nie eens vir onsself groot genoeg is nie. Ons het net een veld oor.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article