Paulus Joubert Hoërskool se standerd 10A (gr. 12)-klas van 1978. Agter, van links, is William Martin, Sonja Bothma-Schroeder, Titus Hendricks, Christopher Lewis, Karl Heugh, Quinton Throne, Japie Charles, Ernest Loth, Cathrine Meyer, Ralph Johnson, Victor Pienaar, Martha Mackenzi-Gillion, Gavin Adams, Gertrude Beukes, Angelo Carolissen en Karel Cornelissen. Voor: Douglas Abels, Sabina Williams, Dedrei Bailey, Marlene Nardus-Swiegelaar, Sjameemah Allie, Shirley De Wet, Evelyn Adams, en Lorraine Van Zitters. Foto:

Credit: SYSTEM

Die 1978-matrikulante van die Hoërskool Paulus Joubert het onlangs hul 45ste herdenking gevier by ’n reünie wat Saterdag 25 November in die Gracelandsaal in Paarl gehou is.

Die gala-aand is voorafgegaan deur ’n meet & greet, waar die klasmaats mekaar ná soveel jare weer gesien en gesellig verkeer het.

By dié geleentheid is elke klasmaat met ’n geskenk verras, asook die onderwysers deur wie hulle in daardie tyd onderrig is. Intussen is ses onderwysers oorlede, naamlik mnr. J.A. Arendse (hoof), mnr. C.J. Joseph (Afrikaans), mnr. T.P.A. Carolissen (Engels), me. Shameegah Allie (handelswetenskap), mnr. C. Ockert (rekeningkunde) en mnr. L. Arends (liggaamsopvoeding).

Nege klasmaats is ook oorlede, naamlik Magrieta Jacobs, Joachim Jacobs, Frank Jacobs, Arthur Mack, Niklaas Marshall, Stemmet Cupido, Ismael Crotz, Kathleen-Christa-Hendricks en Elwiezo Hoffman.

’n Huldeblyk aan die gestorwenes is deur middel van ’n skyfievertoning gebring. Dit het heelwat heimwee en selfs ’n traan of twee ontlok.

Die hoofspreker was Sonja Bothma-Schroeder en die programdirekteure was Ernest Loth en Kathrine Meyer. Verskeie heildronke is deur die oudleerders ingestel. Hulle het ook geluister na stemboodskappe van diegene wat nie die geleentheid kon bywoon nie.

Laastens, maar gewis nie die minste nie, was dié inisiatief dié van die organiseerders, Angelo Carolissen en Douglas Andrews, wat ’n komitee op die been gebring het en gewoeker het met funksies en skenkings vir die geleentheid wat ondanks beurtkrag vlot verloop het.

Die oudleerders poog voorts om hul alma mater se koffers te vul deur middel van geldinsamelingsprojekte in die Paarl-gemeenskap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article