Dit is byna twee jaar sedert Jacky le Roux haar moeder, CM Gunter, op 87-jarige ouderdom gedurende die Covid-19 pandemie aan die dood afgestaan het.
Gunter is op 27 Februarie 2021 in die hospitaal oorlede.
Ongelukkig sou die doodstyding net die begin wees van baie emosionele lyding nadat ’n kammakastige prokureur aangestel is om Gunter se boedel af te handel.
Die boedel-koffer van byna R1 miljoen is oor ’n tydperk van twee jaar tot glo net R600 leeggesteel.
“Vir my was dit baie traumaties, want destyds kon ’n mens nie naby ’n Covid-pasiënt kom nie, en ek kon my moeder glad nie bystaan in haar siekte soos ek graag sou wou nie – ek moes alles telefonies reël, en vir haar was dit net so ’n slegte tyd, want sy was stoksielalleen.
“En nou verwerk ek nog die diefstal van my ma se kontantboedel weens ’n prokureur van die Paarl wat die rekening leeggesteel het,” vertel Le Roux.
Le Roux het in Maart 2021 op ’n WhatsApp-groep gevra vir aanbevelings vir iemand wat ’n eenvoudige kontantboedel kan afhandel.
“Dit is toe dat ek die naam en kontakbesonderhede van Rolene* gekry het.”
Tot op hede is ’n saak van diefstal by die Paarl-polisie aangemeld nadat Le Roux ’n jarelange stryd van rompslomp, sloer, vermyding en verskonings deur Rolene moes verduur.
“Rolene het my op 17 Junie 2021 gebel en gesê sy sal vir my die boedelvolmag-vorm per e-pos aanstuur om te teken sodat sy kan aangaan met die boedel. Tydens die hele tyd wat sy aan die boedel ‘gewerk’ het, het ek nooit van haar kant af terugvoer oor die stand van sake gekry nie.
“Ek moes herhaaldelik vra en daar was altyd die een of ander probleem soos dokumente wat weggeraak het, stelsels wat gehack is, ensovoorts.”
Sy meen waar Rolene altyd dadelik geantwoord het as sy haar iets vra, het dinge begin verander vanaf Junie 2022. Hulle het meestal per WhatsApp gekommunikeer en, wat baie kommerwekkend was, is dat Le Roux verskeie kere herhaaldelike boodskappe moes stuur om antwoorde uit Rolene te kry.
“Ek het haar op 1 September 2022 ’n boodskap gestuur waarin ek aangedring het om haar by haar huis te kom sien. Sy het uiteindelik ingestem en ons het ’n afspraak gemaak om op 6 September by haar huis in die Paarl, te vergader.”
Ná verskonings van ’n doktersafspraak weens ’n seer keel, Rolene se hele gesin wat maagaandoenings opgedoen het, en Rolene uiteindelik met ’n bloederige hoes glo in die hospitaal beland het, het 6 September toe Donderdag 29 September geword.
Rolene het verduidelik dat Gunter se geld in ’n boedelrekening is.
Toe Le Roux haar vra of sy geld daaruit kan trek, het Rolene haar verseker dat sy geensins geld daaruit kan vat nie, tensy daar opdrag gegee word om dit te doen.
“Ek het haar vertel dat my broer finansieel baie sukkel en die geldjie sal vir hom ’n lewensboei wees, en daarom sal ek graag wil hê dat sy prioriteit aan die boedelafhandeling sal gee.
“Sy het voorgestel dat ek ’n voorskot van R150 000 vir hom kan aanvra, wat sy dan solank kan gee, al is die boedel nog nie afgehandel nie.”
Toe Le Roux ná langer as ’n week nog nie die geld gekry het nie en navraag by Rolene daaroor gedoen het, het Rolene gesê dit neem 30 dae om “los te kom”. Weke gaan toe verby en daar was geen teken van die R150 000 wat inkom nie.
“Die 30 dae word toe 60 dae . . . Ek het op 5 Desember weer by Rolene navraag oor die geld gedoen. So, het ek verskeie boodskappe vir haar oor die geld gestuur – op 9, 12, 19, 20, en 21 Desember – sonder enige terugvoering van haar kant.
“Op 22 Desember het sy wel geantwoord dat sy besig is met [sport] en wag dat die bank vir haar ’n ‘POP’ stuur. Weer het ek vir haar boodskappe gestuur op 28, 29 en 30 Desember, 1 Januarie en op 6 Januarie, waar ek op die ou einde sê ek gaan die Maandag alle dokumentasie by haar huis kom haal.”
Le Roux sê sy was moedeloos gesukkel met Rolene en haar flou verskonings.
“Dinsdag het ek die lêer met die dokumentasie by haar gaan haal en dieselfde dag Nedbank toe gegaan om ’n uittreksel van die boedelrekening aan te vra met my eksekuteursbrief en identiteitsdokument.
“Toe ek die uitdruk gaan haal het, was ek nie eens geskok toe ek sien dat daar net R600 in die boedelrekening oor is nie.”
Met rente moes die totale bedrag nader aan R1 miljoen gewees het.
“As ek so na die lêer met die dokumentasie kyk, blyk dit dat Rolene absoluut niks aan die boedel gewerk het nie, behalwe om toestemming te kry om transaksies op die boedelrekening te doen, en sodoende geld uit die rekening oorgeplaas na haar persoonlike rekeninge – geld wat haar nie toekom nie.”
Twee bedrae van R500 347,97 en R371 247,93 is vanaf ’n vaste deposito wat Gunter by Nedbank gehad het, op 18 Augustus 2021 inbetaal.
Volgens Gunter wys die staat dat daar op 19 Augustus 2021 ’n bedrag van R20 000 uit die rekening oorgeplaas is na een met Rolene se van as verwysing en daarna is bedrae soos volg uit die genoemde boedelrekening oorgeplaas:. 2 September 2021 tot 13 September 2022 is ’n bedrag van R363 000,00 na ’n sakerekeningnommer oorgeplaas;. 24 Desember 2021 tot 5 Januarie 2022 is ’n bedrag van R100 000,00 na “Inheritance” oorgeplaas;. 29 Januarie 2022 tot 1 September 2022 is ’n bedrag van R250 000,00 na ’n ander rekening oorgeplaas; en. 26 April 2022 tot 23 September 2022 is ’n bedrag van R146 200,00 na ’n ander rekening oorgeplaas.
“Intussen kon ek vasstel dat sy die R350 000 (R100 000 en R250 000) aan ’n man by ’n sportklub ‘geleen’ het sonder enige kontrakte. Hy het my kom sien en besef dat die geld wat Rolene vir hom geleen het, eintlik uit die CM Gunter se boedelrekening kom en hy het ooreengekom om die bedrag in paaiemente aan my terug te betaal.
“Ek het Rolene dus van diefstal en bedrog aangekla. Ek verstaan ook uit twee verskillende bronne dat daar reeds strafregtelike klagtes teen Rolene ingedien is.”
*Rolene is ’n skuilnaam omdat die prokureur se regte naam weerhou word totdat sy amptelik aangekla word en in die hof verskyn.





