‘n Ligte vliegtuig wat na bewering deur ‘n leerlingvlieënier, onder die toesig van ‘n vluginstrukteur, beman was het op die Diemerskraal-vliegveld op die R45 getuimel.


Nooddienste het Vrydagmiddag gereageer na ‘n ongelukstoneel van ‘n ligte vliegtuig wat glo deur ‘n leerlingvlieënier, onder begeleiding van ‘n vluginstrukteur, op die Diemerskraal-vliegveld net buite Wellington getuimel het. 

Volgens ‘n betroubare bron wat op die toneel teenwoordig was, het die twee insittendes van die vliegtuig slegs ligte beserings opgedoen en is op die toneel deur Paarl Metro-ambulansdienste behandel.

Foto’s van die ongelukstoneel wys hoe die vliegtuig se neus in die grond begrawe is terwyl die res van die wrak teen ‘n skuinste in die lug hang.

Nog ‘n bron het aan die Paarl Post bevestig dat die vleigtuig aan die Cape Town Flying Club behoort. Alhoewel pogings aangewend was om ‘n voorlopige amptelike verklaring by die vliegklub te verkry, was geen verklaring teen die tyd van publikasie bekend gemaak nie. 

Polisiebeamptes, sowel as verskeie nooddienste, was op die toneel teenwoordig. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article