Conrad Poole is Woensdag op ’n raadsvergadering deur ’n wantrouemosie uit sy amp as uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit verwyder.
Die mosie vir Poole se verwydering is verlede week deur ’n aantal opposisiepartye in ’n brief aan die Speaker geopper, waarin hulle sê hul het “alle respek en vertroue” in Poole verloor.
Moutie Richards, ’n ANC-raadslid, het op Woensdag se raadsvergadering ’n dokument aan die Speaker oorhandig waarin altesaam 32 uit die 62 raadslede wat op die vergadering teenwoordig was, gevra het dat daar in geheim gestem moet word – ’n versoek wat deur Koos le Roux, die Speaker, toegestaan is.
Altesaam 34 uit die 62 raadslede het ten gunste van die mosie gestem.
Ses en twintig raadslede was teen die mosie, en twee het nie gestem nie.
Gert Combrink, die adjunkburgemeester, neem intussen in Poole se plek waar.
Poole se burgemeesterskomitee is gevolglik ook ontbind.
’n Nuwe uitvoerende burgemeester én komitee sal binne 14 dae verkies word.
Keagen Gertse, ’n raadslid en koukusleier vir die Good-party, het aan Paarl Post gesê die party verwelkom die wending.
“Hierdie is ’n wen vir demokrasie. Dis ’n wen vir opposisiepartye in die raad. Daar is hierdie algemene persepsie dat kleiner partye nie altyd invloed het nie.
“Met dit gesê is ons verheug dat daar raadslede in die DA was wie ons ondersteun het in die mosie. Hulle het hul grond gestaan en in die naam van dienslewering opgetree.”
Dit is juis Gertse se party wat in Augustus verlede jaar bewerings van wanadministrasie deur Poole aan die Speaker se kantoor gerapporteer het.
Poole word daarvan beskuldig dat hy ’n “betaal-vir-werk”-skema onder sy burgemeesterskomitee bestuur het.
’n Onafhanklike ondersoek deur ’n regsfirma, wat deur die Speaker aangestel is, het in Oktober verlede jaar prima facie-bewyse gelewer dat Poole wel sekere gedragskodes vir raadslede oortree het, en ’n onafhanklike tugkomitee sou deur die munisipale raad gestig word om die bevindings van dié ondersoek behoorlik na te gaan.
Tertuis Simmers, DA-leier in die Wes-Kaap, het intussen in ’n verklaring gesê Poole se verwydering sal nie ’n impak op dienslewering in Drakenstein hê nie.
“Drakenstein is, onder die DA, een van die beste beheerde munisipaliteite. Aangesien ons ’n meerderheid in die raad het sal ’n nuwe DA-burgemeester mettertyd verkies word.”
*Hierdie is ’n ontwikkelende storie.





