Die Wellington-gemeenskap snoer saam om die dorp se belange op die hart te dra tydens die Pamoja-simposium wat op 21 Julie plaasvind.

Die woord “pamoja” kom van Swahili wat saamwerk beteken.

Dié term, meen organiseerders Jana Lubbe en Tanja Swart, pas perfek by die tema wat daartoe streef om plaaslike belangegroepe en hulpbronne te stroomlyn.

Op dié manier kan die dorp se uitdagings deur betrokke belangegroepe, saamaangespreek word.

“Die simposium poog om alle liefdadigheidsorganisasies, kerke, skole, landboubedryf, studentegemeenskap, taxi-assosiasies, besigheidsektor, die plaaslike polisie, buurtwagte, maatskaplike werkers en raadslede bymekaar te bring,” sê Lubbe.

Die doel is om ’n samesmelting van hulpbronne, idees en moontlike oplossings tot die dorp se uitdagings onder al dié groepe, te bewerkstellig.

“Uiteindelik is die mikpunt om só ’n gemeenskaplike netwerk van betrokkenheid, saam te stel.”

Die geleentheid word moontlik gemaak danksy die beplanning en koördinasie van die ACVV Wellington-tak, terwyl Wellington-GPF as die dryfveer van die projek se funksies en doelwitte sal dien.

“Twee merkwaardige gassprekers het ingestem om hul visies en wyshede wat gemeenskapsbelange en betrokkenheid betref, met die gehoor te deel.”

Die simposium behels vier sessies, waar elke spreker hul stories sal deel, gevolg deur interaktiewe werkswinkels waaraan die gehoor mag deelneem.”

Ton van der Smit van die Nederlandse organisasie Eye for Others, sowel as die Wes-Kaapse departementele hoof van plaaslike veiligheid, adv. Yashida Pillay, sal dié gesprekke lei.

Die simposium sal Donderdag 21 Julie by die Andrew Murray Spiritualiteit-sentrum by 15B Jan Van Riebeeckstraat, gehou word. Die deure sal om 08:00 oopgaan en die program sal tot 12:30 duur, en met ’n ligte middagete daarna afsluit. R50-donasies vir die etes is ook welkom.

Alle instansies word versoek om minstens een afgevaardigde na die simposium te stuur. Vir meer inligting of om jou plek te bespreek, bel die ACVV kantoor by 021 873 2204 of selfoonnommer by 082 575 4628.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article