Die fokus val dié week weer eens op noodlottige botsings op plaaslike paaie.

Drie mense is Sondagaand dood en nog talle beseer in ’n grusame botsing tussen twee minibustaxi’s op die R44 tussen Wellington en Gouda.

Paarl Post het verlede week toevallig breedvoerig berig oor die kommerwekkende omstandighede op hierdie pad, wat baie motoriste as ’n renbaan gebruik. En deur die jare het hierdie pad al tot talle sterftes gelei – in een so voorval het 12 mense omgekom.

Die R44 is geen uitsondering nie.

Selfs Paarl Hoofstraat, wat veronderstel is om ’n streng spoedbeperking van 60 km/h te hê, was al ook die toneel van talle noodlottige botsings.

Dit is nie ’n geheim in die Drakenstein dat ons nie genoegsame polisiëring op ons paaie het nie. Net een voorbeeld hiervan is die strate van sekere gebiede in die Paarl wat naweek in en naweek uit deur drag-racers as renbane gebruik word. Sogenaamde “renjaers” en hul ondersteuners reis selfs van die Skiereiland af hierheen, omdat ons strate vrylik hiervoor gebruik kan word.

Die probleem lê ook by bestuurders se arrogansie, onverantwoordelikheid en spoedlus, en totdat houdings op ons paaie nie verander nie, sal die slagting net eenvoudig voortgaan. Dit is juis dáárom dat diegene deur die lang arm van die gereg gestuit moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article