Die lank verwagte opknapping van die Carolinapad is om die draai met padwerk wat op 20 Junie begin.
Die aansluiting van Carolinapad van die Nuwerus-afrit net langs Jan van Riebeeckrylaan tot by die Paryskloof-aansluiting (Bergkruinstraat) in die Paarl sal tot 29 Julie gesluit wees vir die opknapping van die pad se infrastruktuur.
Deurlopende padwerk in die gebied kan padgebruikers tot 15 Desember raak vanweë die volledige opknapping van die Carolinaweg- en Jan van Riebeeckrylaan-aansluiting, wat verkeersligte insluit.
Volgens Marius Wüst, uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, sluit die werk die uitleg van die Carolinapad sowel as Jan van Riebeeckweg in om by die opknapping van Carolinapad aan te pas.
“Bykomend tot die veranderings aan die rybane sal verkeersligte ook by hierdie aansluiting aangebring word.”
Wüst het gesê dié padwerk word genoodsaak deur al die eiendoms-ontwikkelings in die omgewing asook vir die veiligheid van padgebruikers en om die gladde vloei van verkeer te verseker.
“Goedkeuring van die planne is reeds van die provinsiale padingenieur, wat die owerheid in beheer van Jan van Riebeeckweg is, ontvang,” het Wüst verduidelik.
Motoriste het al sedert die nuwe uitbreidings op die Carolinapad hul ontevredenheid uitgespreek oor die toestand van die pad sowel as die verkeersopeenhopings in spitstye waar dié pad met Jan van Riebeeckweg kruis.
Volgens Wüst word die opknapping gefinansier deur middel van die ontwikkelingsbydraes betaalbaar deur die onderskeie ontwikkelaars. “Die fisiese werk word uitgevoer deur kontrakteurs wat deur die ontwikkelaar bekom is en deur die munisipaliteit goedgekeur is.
“Die munisipaliteit sal ook die konstruksie monitor ten einde gehalte te verseker, en waardeer alle padgebruikers se samewerking.”
Padgebruikers word gevra om in hierdie tyd alternatiewe roetes te gebruik.. Vir meer inligting, bel Alex Prinsloo by 083 315 2343.



