Kikker jou Paasbolletjies op met hierdie maklike Paasbolletjie-brood-en-botter-poeding.


Die Paashaas is hier asook al die ander lekkernye van Paastyd.

En oral hang die heerlike reuk van warm, varsgebakte Paasbolletjies.

Ja, so ’n Paasbolletjie vars uit die oond en gesmeer met ’n dik laag botter is onweerstaanbaar.

Maar, as jy hierdie lekkerte in nog ’n heerlikheid wil omskep, bak gerus hierdie vinnige en maklike Paasbolletjie-brood-en-botter-poeding.

Die resep is super eenvoudig. Eerstens sny jy die Paasbolletjies in dik skywe. Smeer dan elkeen met ’n gesonde smeersel botter. Rangskik die snye langs mekaar in ’n oondskottel en nou is dit tyd om die eiervlamengsel te maak met eiers, melk, room, kaneel, suiker en vanielje.

Stort die roommengsel dan eenvoudig oor jou gesmeerde broodjies en bak in die oond. Sit dan voor met ’n skepsel roomys en dan gaan ’n ieder en ’n elk wat daaraan smul, baie lief wees vir jou.

Jy benodig (6 porsies):

6 paasbolletjies

30 g. botter, saggemaak

2 eiers

1 koppie melk

1 koppie room

½ tlp. kaneel

¼ koppie strooisuiker

1 tlp. vanieljegeursel

1 tlp. versiersuiker

So maak jy:

Verhit jou oond vooraf tot 180 °C. Smeer ’n groot oondskottel met botter.

Sny Paasbolletjies 1 cm dik en smeer elke stuk met botter. Rangskik snye langs mekaar in die bak.

Klits eiers, melk, room, kaneel, suiker en vanielje in ’n aparte bak saam en giet dan oor die Paasbolletjie-skywe.

Laat week vir 10 minute voordat dit in die oond geplaas word.

Bak vir 35 minute tot goudbruin en gaar.

Sprinkel dan met versiersuiker en sit voor met roomys of vla.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article