Yulin Benans en Andronecia Alkaster op hul troudag. Foto: Chantélle Hartebeest


Yulin Benans (40) en Andronecia Alkaster (37) se liefde vir mekaar is die perfekte voorbeeld van geduld soos in Korintiërs in die Bybel beskryf is.

Dié paartjie van die Paarl het ná meer as 20 jaar saam uiteindelik op Valentynsdag trou aan mekaar belowe nadat hulle die troue-kompetisie van Radio KC, #KCLoveWedding, gewen het.

Andronecia vertel dit was ’n groot verrassing vir haar en Yulin toe hulle hoor hulle het die kompetisie gewen.

Dit is omdat hulle glad nie eens geweet het dat Yulin se pa, Lewellyn John Willis, hulle vir die kompetisie ingeskryf het nie.

“Ons het eers uitgevind sy pa het ons ingeskryf die dag toe Radio KC se mense na ons huis toe gekom en gesê het ons is die wenners van die kompetisie. Ek was baie verbaas toe hulle na ons toe gekom het. Ek was op my senuwees, want ek het nie geweet wat gaan aan nie.”

Hulle sal in Oktober vanjaar amptelik 21 jaar saam wees. Sy sê om te trou was nog altyd deel van hul toekomsplanne.

“Eintlik wou ons dit lankal gedoen het, maar iets het net aanmekaar voorgeval. En kyk wat het ons nou ná al die gewag gekry. Ons kan net vir God daarvoor bedank.”

Maandagmiddag was Andronecia nog baie bekommerd en senuweeagtig oor hoe haar troudag sal verloop, maar met die aanbreek van die groot dag het alles vlot verloop – amper soos in ’n sprokiesverhaal.

Mnr. en mev. Benans is deur eerwaarde Danny George by die Klein Nederburg-gasteplaas in die Paarl in die huwelik gelei.

Yulin en Andronecia was omring deur familie en vriende. Dit was ’n groot oomblik vir hulle albei en die bruidegom kon nie sy trane keer toe hy sy huweliksbeloftes uitgespreek het nie.

Volgens Grant Johnson, die radio-aanbieder van Radio KC se ontbytprogram, is luisteraars gevra om vir die kompetisie in te skryf deur ’n WhatsApp-boodskap of stemboodskap te stuur waarin hulle moes vertel hoekom hulle wil trou en waarom hulle as wenners van die kompetisie gekies moet word.

“Ons het baie inskrywings gekry. Ons het gekyk na al die inskrywings, en die een wat gewen het, was van ’n pa wat sy gesin moes verlaat toe sy seun (die bruidegom) net ses jaar oud was,” vertel Johnson.

Die pa se vertelling van die paartjie se liefdesverhaal het die beoordelaars oorgehaal. Johnson sê verskeie borge het gehelp om die wenpaartjie se groot dag moontlik te maak.

Hul prys het die onthaal, die seremonie wat deur eerwaarde George waargeneem is, asook ’n voorhuweliksberadingsessie, die trourok, die bruidegom en sy strooijonkers se uitrustings, die rok vir die strooimeisie, die troukoek, blomme en selfs ’n klein wittebrood by die De Wingerd Lodge in die Paarl ingesluit.

Ná die troue het Yulin gesê hy is baie dankbaar dat hy met die liefde van sy lewe kon trou.

“Ek is oorweldig van vreugde. Ek is steeds in verwondering oor alles. En baie dankie vir almal se bydraes, want dit is ’n onvergeetlike gebeurtenis,” sê hy.

Verder sien Yulin en sy bruid baie daarna uit om die nuwe hoofstuk van hul lewe saam met hul 15-jarige seun, Riquelme, aan te pak.

  • Yulin Benans (40) and Andronecia Alkaster’s (37) love for each other is the perfect example of patience as written in the Biblical book of Corinthians. After more than 20 years together, the couple from Paarl finally got married on Valentine’s Day after they won the wedding competition of Radio KC.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article