Tik-Tok-sensasie Zubin Pietersen bly met sy voete vas op die aarde in die Paarl.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Om ’n graad in Internasionale Studies te verwerf, beteken gewoonlik dat ’n student die geopolitieke ingewikkeldhede van internasionale betrekkinge bemeester het.

Terwyl hy aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer het, het Zubin Pietersen, wat vandeesweek (Maandag 11 Desember) gradueer het, ook meesterlike internasionale betrekkinge van ’n kreatiewe aard bereik – hy het vroeër vanjaar ’n sensasie op sosiale media geword toe sy liedjies wêreldwyd bekend geword het.

Dié selferkende introvert van die Paarl en oud-leerder van Bridge House het nou ’n vinnig groeiende aanlyn ondersteunersbasis wat oor vastelande heen tot in lande so ver as Indonesië en Maleisië strek. Pietersen het vanjaar meer as 275 000 luisteraars op die musiekplatform Spotify opgebou en nie net het sy onvergeetlike mooi liedjie “Letter for You” ’n soort Tik-Tok-volksliedjie geword nie, maar dit is ook meer as 400 000 keer gestroom sedert dit in Julie vrygestel is. Pietersen se musiek was ook ’n treffer op plaaslike radio – 5FM het sy liedjies vanjaar al meer as 500 keer gespeel.

’n New York Times-joernalis het onlangs van Pietersen bewus geword. Die joernalis het die fokus op “I Just Want You”, ’n KI-gegenereerde weergawe van sy liedjie, geplaas, wat sogenaamd deur Taylor Swift en Harry Styles gesing word. Pietersen beskryf hierdie video as ’n vorm van “guerrillabemarking” wat op ’n spesifieke gehoor gemik is.

Musikale familie

Pietersen se musiekloopbaan het in die Covid-19-pandemie begin toe hy as eerstejaar­student gedurende die grendeltyd by die huis in die Paarl vasgevang was.

Albei my ouers, Milton en Michelle, is gekwalifiseerde musiekonderwysers en het klassieke opleiding in klavier, Franse horing en fluit ontvang. My pa gee tans klas by die Frank Pietersen-musieksen­trum in die Paarl.

Hy kom uit ’n musikale familie – hy is die jongste kleinseun van wyle Frank Pietersen, wat een van die baanbrekers van musiekopvoeding in die Paarl was – en het nog altyd daarvan gedroom om sy musiektalente te slyp.

“Albei my ouers, Milton en Michelle, is gekwalifiseerde musiekonderwysers en het klassieke opleiding in klavier, Franse horing en fluit ontvang. My pa gee tans klas by die Frank Pietersen-musieksen­trum in die Paarl. Aangesien ek in ’n musikale omgewing grootgeword het, het ek aangetrek gevoel tot slaginstrumente en reeds op driejarige ouderdom begin trom speel. Ek het ook gedurende ’n ontdekkingsfase in my kinderjare viool gespeel. Ek speel steeds tromme en vervaardig die meeste van my musiek.”

Pietersen het sy slaapkamer met net sy oorfone en ’n mikrofoon in ’n musiekateljee omgeskep en met digitale tegnologie begin eksperimenteer om sy liedjies te skep en op te neem. Aanvanklik het die musiek wat hy op Spotify geplaas het, nie veel aftrek gekry nie, maar Pietersen het aangehou. “Ek is geïnspireer deur die Ameri­kaanse rapper Russ, wat eenkeer gesê het: ‘Wat as dit op die ou einde beter uitdraai as wat jy ooit kon dink?’ Jy sien dalk nie die vordering op die oomblik nie, maar dit is soos om ’n graad op universiteit te voltooi – nadat jy al die harde werk ingesit het, sal jy uiteindelik gradueer en besef hoe jy gevorder het,” sê Zubin.

Inspirasie uit afsondering

Pietersen put inspirasie daaruit om op sy eie op ’n stil plek te wees. Vanjaar het hy ’n ritueel op kampus begin wat hy sê hy sal koester.

Om te hoor dat my musiek iemand se lewe positief beïnvloed het, het my diep geraak. Dit is ongelooflik hartroerend en vul my met dankbaarheid vir hierdie gawe.

“Ek het ná klas die botaniese tuin begin besoek. Wanneer ek onder ’n boom sit, gee ek my gedagtes vrye teuels. Sommige dae het die natuurlike omgewing liedjie-idees geïnspireer, waarvan ek baie in liedjies omgeskep het, wat van Januarie 2024 af vrygestel word. Hierdie oomblikke lê my besonder na aan die hart.

“Om te hoor dat my musiek iemand se lewe positief beïnvloed het, het my diep geraak. Dit is ongelooflik hartroerend en vul my met dankbaarheid vir hierdie gawe,” sê Pietersen.

Die onlangse sukses van sy musiek het hom glad nie verwaand gemaak nie. “Dit klink dalk vreemd, maar ek het niemand van my sosialemediarekeninge of enigiets vertel nie. Met die verloop van tyd het ’n paar mense in Stellenbosch my egter uit my Tik-Tok-plasings herken en merkwaardige ondersteuning vir my inhoud én my musiek getoon. Hul aanmoediging was baie spesiaal,” sê hy.

Hy gaan sy graad by ’n middagete saam met sy gesin vier voordat hy Oos-Londen toe vlieg om ’n liedjieskryfkamp by te woon saam met ’n vervaardiger met wie hy saamwerk. Sy toekomsplanne draai om konsekwente musiekvrystellings en die opbou van ’n ondersteuners­gemeenskap.

“Ek beskou hulle nie as net aanhangers nie, maar as vriende wat verbind word deur ons gedeelde liefde vir musiek. Hoewel ek diepe agting vir die artistieke kant van musiekmaak het, besef ek ook om as musikant in die 21ste eeu te werk, beteken dit ek moet my eie besigheid bestuur.”

Altyd ’n Matie

Hoewel hy opgewonde is oor die vooruitsig om internasionaal ’n blywende invloed te hê, sê Pietersen Suid-Afrika sal altyd sy huis wees. “In die digitale era van sosiale media het ek besef enigiemand kan van omtrent enige plek in die wêreld af ’n suksesvolle musiekloopbaan hê, solank hulle ’n telefoon- en internetverbinding het. Ek dink dit hang ook daarvan af of jy ’n suksesvolle handelsmerkkuns­tenaar of ’n suksesvolle onafhanklike kunstenaar wil wees,” sê hy.

Hy sê ook hy sal altyd ’n lojale Matie. “Die universiteit se lewendige gemeenskap en diversiteit het as katalisator vir my musiekloopbaan gedien. Stellies het my deursettings­vermoë, durf en waardevolle vaardighede geleer, wat my toegerus het om my pad deur die ingewikkelde landskap van die musiekbedryf te vind.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article