Paarlse skool in rou gedompel ná familielid glo hoofseun doodsteek

Julano King (18) was die hoofseun en eerstespan-stut by die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl. Foto: Verskaf


Die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl was Woensdagoggend (17 Julie) in rou gedompel toe leerders en onderwysers wakker word met nuus oor die tragiese heengaan van sy hoofseun en eerstespan-kaptein, Julano King (18), wat glo die vorige aand weens ’n steekwond in die hospitaal dood is.

King is Dinsdagaand by ‘n hospitaal in die Paarl opgeneem met ‘n steekwond in die nek en het kort daarna weens die erns van die besering gesterf, het sers. Wesley Twigg, ‘n Wes-Kaapse polisiewoorder, aan Paarl Post bevestig.

Paarl Post verstaan dat King glo deur ‘n familielid in die nek gesteek is toe hy na bewering ‘n onderonsie probeer kalmeer het.

Volgens Twigg het ‘n 23-jarige man homself Donderdag (18 Julie) in verband met King se moord aan die Paarl-Oos-polisie oorhandig. 

Die verdagte sal in die hof verskyn sodra hy aankla word.

Twigg het verder gesê die omstandighede rondom die Dinsdag se gebeure word nog ondersoek.

Hy sê die polisie ondersoek ook beweringe dat King se familie gesukkel het om die polisie telefonies te bereik toe hy gesteek was.

‘n Nadoodse ondersoek is intussen van stapel gestuur.

Terrence Adonis, skoolhoof by die Paulus Joubert Sekondêre Skool, het by navraag aan Paarl Post gesê sielkundiges van die departement van onderwys reeds Woensdagoggend (17 Julie) by die skool aangemeld om berading aan leerders te bied.

Julano was ’n energieke leerling. Sy hande het vir niks teruggestaan nie. Hy het altyd probeer help waar hy ’n nood geidentifiseer het. Die twee van ons het weekliks vergader om verskeie kwessies wat die leerlinge en skoolgemeenskap raak te bespreek.
Terrence Adonis, Paulus Joubert-skoolhoof

Volgens die skoolhoof is King se klasmaats verpletterd weens die gebeure.

“Ek het met sy klasmaats gaan praat. Daar is nog baie vrae, baie onduidelikhede. Wat ek wel kan noem, is dat sy heengaan beslis ’n leemte laat.

“Julano was ’n energieke leerling. Sy hande het vir niks teruggestaan nie. Hy het altyd probeer help waar hy ’n nood geidentifiseer het.

“Die twee van ons het weekliks vergader om verskeie kwessies wat die leerlinge en skoolgemeenskap raak te bespreek. Ons skool verloor werklik iemand na wie baie leerlinge opgekyk het,” sê Adonis.

Julano King het die liedjies- en krete vir die sko

Julano King het die liedjies- en krete vir die skool se rugbyspanne geskryf. Foto: Verskaf

Adonis het verder vertel dat King nie net ’n veelsydige sportman was nie, maar dat hy ook ’n kunstige kant gehad het.

“Hy was ’n rymkletser. Hy het musiek gemaak en dit is ook die industrie waarin hy graag volgende jaar naam in sou wou maak.

“Die leerders het juis vanoggend vir my gesê dat hy vandag ons amptelike liedjie vir die interskole-derby wat oor ’n maand plaasvind, sou vrygestel het.”

Die skool het in ’n Facebook-inskrywing gesê hulle is verslae oor die verlies van so ’n helder en belowende jong leerling.

“Mag jou herinnering ’n seën wees. Hartlike meegevoel aan sy gesin en familie vir die verlies van hul geliefde seun. Sy glimlag sal nooit vergeet word nie en hy sal met liefde onthou word,” lui die inskrywing.

Kayrah-Lee Taute, een van King se skoolmaats, het ook op Facebook gesê sy is verpletterd deur sy dood.

“Ek kan dit nie oor my kry nie. Jy het jou lewe en loopbaan voor jou gehad. Hoe kan iemand wat almal laat lag en glimlag net so weggevat word?

“Jy het ’n groot impak op almal gehad, selfs op skool het jy een en elk laat welkom voel met jou warm hart. Ek voel hartseer maar die Here weet wat Hy doen en wanneer. Jy is nou op ’n beter plek,” skryf Taute.

King se gesin en familie kon nie teen druktyd bereik word nie.

Geen roudiens- en begrafnisdatum was Donderdag (18 Julie) bekendgemaak nie.

*Hierdie berig is aangepas nadat in Donderdag (18 Julie) se gedrukte weergawe van die Paarl Post verskyn het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article