Geoffrey


Sy het Saterdagaand voor sy bed toe is, oudergewoonte vir die Here se beskermde Hand oor haar gesin se lewe gebid, en is toe Sondag (25 Augustus) in die oggendure wakker gebel met die tragiese nuus dat haar seun by ’n kroeg in die Paarl vermoor is.

Só het Magdalena Fredericks, die ma van Geoffrey Fredericks (32), vandeesweek emosioneel aan Paarl Post vertel nadat haar seun die afgelope naweek by die Frendo’s kroeg in Jan van Riebeeckweg in die Paarl gewelddadig dood is.

Die voorval het omstreeks 01:00 Sondagoggend gebeur, waarna Geoffrey deur twee van sy vriende saam met wie hy by die kroeg was, na die Paarl-hospitaal gehaas is.

Hy het met sy aankoms by die hospitaal aan sy steekwonde beswyk.

Tannie Maggie, soos sy ma in haar gemeenskap bekendstaan, vertel dat ’n onderonsie glo by die kroeg uitgebreek het.

Wat ek wel kan noem, is dat my kinders, so groot gebou soos wat hulle daar is, nie die baklei-soort is nie. Hulle is grootgemaak om altyd konflik te vermy. Ek verstaan dat hy nie eens terugbaklei het nie.
Fredericks se ma

Volgens haar is Geoffrey drie keer in die bors en ook naby aan een van sy slagare met die mes gesteek.

Die motief vir die voorval is onbekend.

“Wat ek wel kan noem, is dat my kinders, so groot gebou soos wat hulle daar is, nie die baklei-soort is nie.

“Hulle is grootgemaak om altyd konflik te vermy. Ek verstaan dat hy nie eens terugbaklei het nie. Hy het vir die persoon om verskoning gaan vra vir ’n misverstand en dis toe hy aangeval is,” vertel sy.

Tannie Maggie het emosioneel verhaal hoe sy en haar man Sondagoggend deur die hospitaal met die tyding wakker gebel is.

“Hulle het na my foon toe gebel. My man het geantwoord en hy het skielik net stil geraak.

“Ons is toe inderhaas hospitaal toe. Die hospitaal het oor die foon gesê my kind het aan sy wonde beswyk; dat hy nie meer lewe nie. Maar steeds het ek in die kar op pad soontoe gebid.”

Geoffrey Fredericks (32) Foto: Verskaf

Geoffrey Fredericks (32) Foto: Verskaf

Geoffrey was een van drie broers.

Sy oudste broer is in die polisiediens in Pretoria en sy jonger broer is ’n bekende basketbal- en netbalspeler vir Suid-Afrika se nasionale netbalspan.

Geoffrey was ook die pa van drie kinders. Sy jongste dogtertjie word binnekort twee jaar oud.

“Die kinders sukkel ook nog om die gebeure te verwerk. Sy jongste dogtertjie wil gereeld weet waar haar pa is,” sê Tannie Maggie.

Geoffrey was nie net ’n kranige rugbyspeler vir onder meer die Young Peoples Rugby Football Club in die Paarl nie, maar het ook ’n musikale kant aan hom gehad.

Hy het graag klavier gespeel en was deel van sy kerkkoor.

Sy gesin het Maandag sy lyk gaan besigtig.

Finale reëlings vir sy roudiens en begrafnis was teen druktyd nog nie bekend nie.

Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder vir die Paarl-polisie, het by navraag bevestig dat ’n moordsaak aanhangig is.

“Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek en niemand is nog aangekeer nie,” sê Du Plessis.

Paarl Post het Maandag die Frendo’s-kroeg vir kommentaar oor die voorval genader. Die kroeg se eienaar wou nie uitwei oor die gebeure nie.

  • Enigiemand met inligting rakende die voorval word aangemoedig om die Paarl-polisie by 079 894 1706 of 079 893 9860 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article