’n Matriek-paartjie van die Paarl wat Maandag (16 September) tragies gesterf het toe hulle deur ’n bus, wat glo beheer verloor het, getref is het albei beplan om volgende jaar ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse weermag te volg.
Só het Cheslin Davids (18) en sy vriendin Julia-Ann Samaai (18) se familie Donderdag (19 September) op ’n troosdiens by die ongelukstoneel in Van der Stelstraat aan Paarl Post vertel.
Getuies beweer die bus het in Van der Stel-straat gery en weens vermoedelik ’n meganiese fout buite beheer geraak en die vier voetgangers op die sypaadjie getref.
Cheslin was ’n matriekleerling aan die LK Zeeman Akademie, en Julia-Ann aan die Charleston Hill Sekondêre Skool, en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Twee ander jongmense, glo studente van ’n plaaslike kollege, is ook in die voorval beseer en in die hospitaal opgeneem.Die voorval het omstreeks 13:00 plaasgevind.
Kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder by die Paarl-Oos-polisie, het by navraag aan Paarl Post bevestig dat die polisie ’n saak van strafbare manslag ondersoek.
Hy het benadruk dat die omstandighede rakende die voorval nog ondersoek moet word en dat verskeie getuies nog ondervra moet word.
Verskeie ondersoekeenhede en rolspelers was Maandagmiddag op die toneel. Die busbestuurder is ook deur die polisie ondervra.
Die LK Zeeman Sekondêre Skool het in ’n Facebook-inskrywing hulde aan Cheslin gebring.
Cheslin was ’n joviale, goedhartige jong man wat geliefd by en gekoester is deur al sy onderwysers, medeleerders en personeel. Hy het vreugde en positiewe energie in elke vertrek gebring wat hy binnegekom het, en sy teenwoordigheid sal baie gemis word.
“Sy lag, warmte en gees het ’n blywende indruk gelaat op almal wat die voorreg gehad het om hom te ken.
“In hierdie moeilike tyd betuig ons ons diepste meegevoel aan Cheslin se familie en geliefdes, asook aan die Samaai-familie. Ons gedagtes en gebede is met julle terwyl julle deur hierdie ondenkbare verlies gaan.
“Die hele LK Zeeman Akademie staan saam in rou en treur oor die verlies van ’n jong siel wat te gou gegaan het. Ons is daartoe verbind om ondersteuning te bied aan ons leerders en personeel terwyl ons almal probeer om hierdie tragedie te verwerk. Mag sy en Julia se siele in vrede rus,” het die Facebook-inskrywing gelui.
Charleston Hill Sekondêre Skool het ook hulde aan Julia-Ann gebring.
“Ons harte is gebreek. Ons geliefde Julia en haar spesiale vriend, Cheslin, albei matriekleerlinge, is deur die dood weggeraap.
“Julia was enig in haar soort met ’n sprankelende persoonlikheid en ’n groot liefde vir haar skool. Vandag het sy haar laaste eksamen afgelê. Soveel moontlikhede, soveel drome,” het ’n inskrywing op Facebook deur die skool gelui.
Enkele omstanders het Maandag op die toneel gesê mense kla glo al lank dat hierdie betrokke bus by verskeie geleenthede probleme gegee het.
Marthinus Gouws, ’n gemeenskapsaktivis in Paarl-Oos, het by navraag aan Paarl Post gesê druk sal op die betrokke rolspelers geplaas word om die busmaatskappy verantwoordbaar te hou.
“Daai bus het leerders en werkers vervoer. Hulle het kontrakte met verskeie maatskappye.
“Dit is onaanvaarbaar dat ’n bus in daai toestand op ’n openbare pad is. Twee van ons kinders is dood as gevolg van die nalatigheid van die busdiens se bestuur.
“Hulle moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die dood van hierdie jong mense. Ons verkeersdepartement en wetstoepassers het ook die families in hierdie verband gefaal,” het Gouws gesê.
Hy het verder gesê hy sal aanbeveel dat ’n siviele eis teen die busdiens ingestel word.
Die Benjamin Star-busdiens het intussen in ’n verklaring ontken dat die betrokke bus, waarop die naam Fortuin’s verskyn, aan hom behoort.
“Ons het geen affiliasie met hierdie busdiens nie. Ons deel geensins enige werkswinkels of persele met hulle nie,” het die verklaring gelui.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het Dinsdag gesê beradingsondersteuningspanne is na die twee skole gestuur om bystand aan leerlinge en personeel te bied.





