Dit is ’n trotse ervaring vir die jong Paarlse aktrise Veronique Jepthas, wat deesdae saam met Evita Bezuidenhout in die mini-reeks Evita in Excelsior op KykNet te sien is.
Volgens KykNet is Evita in Excelsior ’n dramedie van vier episodes, wat in ’n dokumente^re styl geskiet is. Die reeks het Dinsdag op DStv-kanaal 144 begin. “Dit sluit van Evita Bezuidenhout se geliefde storiemonoloe¨ in, sowel as ’n paar ikoniese onderhoude wat herinner aan haar veelbewoe¨ geskiedenis en belangrike bydrae tot Suid-Afrika.”
Evita, wat beskou word as ’n komediant, aktrise en politieke aktivis, is die alter ego van die Suid-Afrikaanse kunstenaar, skrywer, satirikus en sosiale aktivis Pieter-Dirk Uys.
In die reeks is Evita op 87-jarige ouderdom nog volstoom besig om haar beste lewe te leef. Sy en haar drie kleinkinders, Winnie-Jeanne (19), Nelson-Ignatius (16) en LaToya-Ossewania (13), woon in Excelsior. Dit is ’n ou herehuis in Johannesburg, wat sy namens die ANC bestuur. Evita doen dit als terwyl sy ook aan haar outobiografie skryf.
KykNet verduidelik in ’n persverklaring “Evita verteenwoordig baie van die vrese, verwagtinge en vooroordele van haar generasie, maar sy is ook bewus van die noodsaaklikheid van luister en lag, hoop met humor en koeksisters met rooibostee. Sy moet aanpas – nie net met die daaglikse woelinge van demokrasie nie, maar ook met die jonger geslag, ’n vinnig veranderende wêreld en haar ouderdom. Tussen haar outobiografie en besoeke aan Luthuli-huis hou die familie haar besig met tienerprobleme en moderne opinies. Evita probeer byhou, maar wonder tog wat op aarde TikTok is.”
Jepthas vertolk die rol van Winnie-Jeanne Makoeloelie-Bezuidenhout. “Ek is die oudste kleinkind en is ’n vurige 19-jarige aktivis wat alewig die een of ander probleem op kampus oplos – ’n stylvolle dame, wat Gogo beskryf as Prinses Winnie-Jeanne,” verduidelik Jephtas.
Die 26-jarige voel geëerd dat sy deel van die reeks kan wees – nie net vir die rol wat sy vertolk nie, maar ook omdat sy saam met verskeie gesoute akteurs kon werk. Dit herinner haar aan die keer toe sy saam met wyle Sharlene Surtie-Richards aan die fliek Swirl gewerk het.
“Ek het ’n paar weke gelede opnuut besef dat ek van die gelukkiges was wat saam met Sharlene gewerk het. Hierdie voel ook so. Pieter is ’n darling en Tannie Evita ’n groot lief met ’n stout sin vir humor. Aunty Vinette (Ebrahim) ken ek al ’n hele ruk en dis ons tweede projek waar ons so naby aan mekaar werk; dis altyd lekker. Sy is soos ’n ma en ’n baie goeie vriendin. Uncle Royston (Stoffels) is ’n grapjas, maar vol liefde en gee baie lekker drukkies. En die res – dit was ’n baie groot plesier. Dit was ook vir my die eerste keer waar ek teenoor een van my baie goeie vriendinne, René Ethel Cloete, gespeel het. Ons speel sussies, en dit verruil ek vir niks.”
Evita in Excelsior is die volgende paar weke Dinsdagaande om 20:00 op DStv-kanaal 144 te sien.
- It is a proud experience for the young Paarl actress Veronique Jepthas, who can be seen with Evita Bezuidenhout in the KykNet mini-series Evita in Excelsior, on Tuesdays at 20:00 on DStv-channel 144.





