Op 19-jarige ouderdom bel sy ma hom met die goeie nuus dat hy vir die Springbokspan gekies is en twee jaar later verteenwoordig hy die land by die Rugby-wêreldbeker (RBW) in Frankryk – ’n droom wat verwesenlik is, maar tog met uitdagings gekom het.
Só het Canan Moodie, ’n veelsydige Springbok-RWB-kampioen, Donderdag gesê toe Paarliete hom in die vallei welkom geheet het. Canan is ’n oud-leerder van Boland Landbouskool net buite die Paarl.
Die verwelkomingseremonie het by Radio KC se ateljee in Bredastraat plaasgevind, waar Moodie se ondersteuners in groot getalle vir foto’s met hul eie kampioen opgedaag het.
Moodie sê hy is dankbaar vir al die ondersteuning wat die Bokke tydens die RWB ontvang het.
“Ons het nie altyd gesien wat alles in die land aangaan nie, maar kon deur TikTok-video’s en Facebook-plasings ’n idee kry van wat dit vir almal beteken. Ek dink toe ons daar by die lughawe (OR Tambo in Johannesburg) opdaag, kon ons amper nie glo hoe baie mense ons ondersteun het nie – nie net by die lughawe nie, maar ook tydens die trofee-toer het mense van Bonteheuwel, Langa en al daardie plekke hul ondersteuning kom toon. Ons kon toe sien dat ons hierdie land werklik trots gemaak het.”
Hy sê hoewel rugby nog altyd sy eerste liefde was, was dit nie noodwendig ’n maklike pad nie.
“Op skool was ek nie altyd goed en vir die eerste span gekies nie. Dit was tydens my matriekjaar toe ek besluit het dis dalk iets waarvan ek ’n loopbaan wil maak. Ek is dankbaar vir my broer wat my hard gedruk het asook my vriende wat vyfuur die oggend sou opstaan om saam met my te gaan oefen.”
Moodie sê in sy matriekjaar in 2020 het die Covid-19 pandemie sy rugby- drome baie onseker laat lyk.
Hy het verwys na ’n video wat tydens die inperking op sosiale media gedeel is waarin hy en sy broer rugby oefen nadat alle sportsoorte- en sportgeleenthede weens die pandemie gestop is.
“Vir baie seuns wat op skool rugby speel, is jou matriekjaar gewoonlik die jaar waarin almal aan die Cravenweek en SA skole wil deelneem en hopelik ’n kontrak kry. Na slegs drie wedstryde word sport gestop en ek dink daar gaan my droom om ’n rugbyspeler te word.
“Gelukkig vir my het ek vriende en familie gehad wat my aanhou motiveer het dat ek steeds my drome kan verwesenlik. Daardie video wys dat ek werklik ’n droom gehad het. Ongeag die omstandighede het ek ’n manier gevind om te doen waarvoor ek lief is. Hier staan ek vandag – ’n rugbykampioen op 21-jarige ouderdom.”
Moodie se ma, Chantel, sê sy is vandag dankbaar dat sy haar kinders met dissipline en deursettingsvermoë grootgemaak het.
“Canan staan hier langs my en hy kan getuig dat ek altyd vir hulle sê dit wat ’n mens begin, gaan jy voltooi. Met daardie beginsels stuur jy jou kind die toekoms in met die wete dat hulle met enigeen oor die weg sal kom.
“Ek is dankbaar om te kan erken dat Canan ’n baie nederige mens is. Dieselfde mens wat hy hier by die huis is, is wie hy daar buite is – dis hoe ons hom geleer het. Watter hoogtes jy ook al in die lewe mag bereik – dit is die mense hier rondom jou wat altyd jou grootste ondersteuners sal wees, so baie dankie aan almal.”
Met Moodie wat terug is in die land is, is die verwagting dat hy binnekort na die Blou Bulle in Pretoria sal terugkeer en sy fokus weer na provinsiale rugby sal skuif.





