Twee inwoners van die Paarl, Veroeshka Grain en haar afrigter, Renfred Dazel, is besig om hulle vir die 2024- Olimpiese Spele in Parys voor te berei, waar hulle Suid-Afrika en hul tuisdorp sal verteenwoordig.
Vanjaar is ’n besondere mylpaal, aangesien dit die eerste keer is dat Suid-Afrika se vroue-7’s-rugbyspan aan die Olimpiese Spele sal deelneem.
Veroeshka, ’n 33-jarige Springbok-vleuel van Smartie Town in die Paarl, beskryf haar deelname as ’n sprokie wat waar geword het.
“Ek moet steeds myself knyp om te besef dat ek op pad Frankryk toe is vir die Olimpiese Spele,” sê sy opgewonde.
Veroeshka het haar rugbyloopbaan by New Orleans Sekondêr begin en haar liefde vir die sport het verdiep toe sy haar eerste provinsiale wedstryd vir Boland Rugby gespeel het.
Sedert 2013 reeds het sy vir die Springbok-15’s- asook die 7’s-vrouespanne uitgedraf en het reeds die wêreld vol danksy rugby gereis. Sy het ook aan die Wêreldbeker in Rusland vir die Springbokke se vroue-7’s deelgeneem.
Veroeshka was ook ’n sleutelspeler in die span wat verlede jaar die Rugby- Afrika-Vrouebeker gewen het, wat gelei het tot kwalifisering vir volgende jaar se Rugbywêreldbeker in Engeland en Wêreldbeker 2 in Kaapstad.
Tussen haar besige skedule deur, bestee Veroeshka soveel tyd as moontlik saam met haar vierjarige seuntjie.
Sy is ook die afrigter van die meisiesrugbyspan by Klein Nederburg.
Veroeshka is passievol daaroor om jong meisies te inspireer om hul drome na te jaag, ongeag hul agtergrond. “Ek is ’n bewys dat jy bo moeilike omstandighede kan uitstyg en jou drome kan verwesenlik,” sê sy.
Veroeshka beklemtoon die belangrikheid van harde werk op skool en op die sportveld, en moedig vroue aan om nooit verskonings te soek vir hoekom jy nie kan seëvier nie.
Sy en haar afrigter, Renfred Dazel, is vasbeslote om by die Spele uit te blink en die naam van die Paarl hoog te hou.
Renfred het sy rugbyloopbaan in 2005 as speler vir die Springbok-7’6 begin en is sedert 2013 die trotse afrigter van die Suid-Afrikaanse Vroue-7’s-span.
Met sy diepgewortelde liefde vir rugby, wat reeds op skool by Paulus Joubert Sekondêr begin het, het Dazel sy sportloopbaan voortgesit deur vir verskeie klubs en unies te speel voordat hy sy plek in die Blitsbokke losgeslaan het.
Dazel se afrigtingloopbaan het in 2013 in Amsterdam afgeskop, waar hy aanvanklik die vrouespan se wedstryde as konsultant ontleed het.
Later dieselfde jaar is hy amptelik as Suid-Afrika se hoofafrigter aangestel.
Sedertdien het hy sy rol met groot entoesiasme aangepak en hy geniet die uitdagings wat die pos bied sowel as die geleentheid om te sien hoe die span daagliks groei.
Denfred het sedertdien vrouerugby na ’n nuwe vlak in Suid-Afrika geneem.
Sy toewyding aan die sport en sy span is onwrikbaar, en sy benadering tot afrigting is een van gelykheid – die vrouespelers word net so hard gedruk soos hul manlike eweknieë.
Hul oefeninge is intens en hy woon verskeie sessies by om hul vaardighede en fiksheid te verbeter.
Renfred se passie vir rugby en sy toewyding aan die ontwikkeling van vrouerugby maak hom ’n sleutelfiguur in die bevordering van hierdie sport in Suid-Afrika.
Met sy leiding is die toekoms van die Suid-Afrikaanse Vroue-7’s-span gewis in goeie hande.
En nou is sy volgende mylpaal die Olimpiese Spele, waar hy graag sy span tot nuwe hoogtes wil sien vorder.
Die vroue-7’s-toernooi by die Spele vind plaas van 28 tot 30 Julie, waar Suid-Afrika saam met Australië, Ierland en Brittanje in ’n groep geloot is.
Met die ondersteuning van hul gemeenskap en die res van Suid-Afrika is Veroeshka en Renfred gereed om die wêreld te wys wat hulle kan doen.





