’n Inwoner van die Paarl wat vyf jaar gelede sy skoondogter aan kanker afgestaan het, het dit nou sy morele plig gemaak om geld in te samel vir kinders in Drakenstein by wie kanker gediagnoseer is, met ’n groot skenking wat hierdie week aan die Little Fighters Cancer Trust gemaak is.
Desmond Andrews het met die Charis Worship Centre, onder leiding van pastoor Reggie Hendricks, hande gevat en op 29 Oktober ’n sangmiddag in Wellington gehou waartydens R5 000 ingesamel is.
Die geld is Maandag aan Little Fighters Cancer Trust oorhandig.
Andrews het aan Paarl Post gesê kinders behoort nie alleen hul stryd met kanker aan te pak nie, en dat hy graag sy bydrae wil maak om die klein vegters en hul gesinne te ondersteun.
Sy dogter is vyf jaar gelede oorlede nadat oogkanker by haar gediagnoseer is.
“Sy en my seun is deur ’n enorme stryd. Sy het so baie pyn en lyding ervaar. Boonop het die gesondheidstelsel in my opinie haar ook gefaal. Ek het dit sedertdien ’n jaarlikse instelling gemaak om veral kinders in Drakenstein wat kankerlyers is te help.
“Dit het aanvanklik hier in my gemeenskap begin waar ek twee kinders finansieel ondersteun het. In daardie stadium het ons ook ’n konsert by die Charis Worship Centre gehou en die geld op so ’n wyse ingesamel. Ek het onlangs op die Little Fighters Cancer Trust se Facebook-blad afgekom en toe die idee van die sangmiddag met pastoor Reggie bespreek.”
Lizelma Olivier, ’n maatskaplike werker en programbestuurder by die Little Fighters Cancer Trust, het aan Paarl Post vertel die skenking sal vir minstens vyf kinders en hul gesinne in die Drakenstein- munisipale gebied aangewend word.
“Ons organisasie is baie dankbaar vir hierdie tipe skenkings omdat ons nie ’n standvastige inkomste het nie en maar op ondersteuning van die publiek staatmaak. In hierdie geval sal ons nou uitreik na die kinders se gesinne en kyk hoe daar aan hul behoeftes voorsien kan word. Die geld word ook aangewend om enige benodigdhede aan te koop terwyl van die kinders in die hospitaal is.”
Die Little Fighters Cancer Trust is ’n organisasie sonder winsbejag wat bystand bied aan kinders by wie kanker gediagnoseer is, asook hul gesinne. Kontak Little Fighters Cancer Trust by 084 099 1136.





