’n Paarlse ma en entrepreneur, Liovian Anderson, is te sien in die jongste seisoen van die KykNet-werklikheidsreeks Plaasjapie.
In dié reeks moet deelnemers kaalhand ’n verskeidenheid boerderyaktiwiteite en uitdagings aanpak, wat hul uithouvermoë en wilskrag toets. Al die aktiwiteite moet ook sonder moderne tegnologie uitgevoer word.
“Die ervaring was ongelooflik en ons het in werklikheid baie harde werk ingesit op ons plase en ek hoop kykers sal dit kan raaksien. Om soggens voor die hoenders begin kraai al te begin met jou dag se taak sit nie in enigeen se pype nie.
“Die ervaring en belewenis om ook bande te smee en ’n huis te deel met mense wat jy van geen kant af ken nie, is nie maklik nie, maar dit help jou met karakterbou en vertroue in ander bou. My grootste motivering en dryfkrag vir inskryf vir Plaasjapie was om my man (Kirby Anderson) en kinders (Jade en Joshua) trots te maak, maar ook om aan myself te bewys dat ek kan volhard en bo my comfort zone kan uitstyg.”
Behalwe vir die feit dat sy ingeskryf het om haar geliefdes trots te maak, het Anderson ook ingeskryf om ’n kans te staan om R1 miljoen te wen.
“My grootste motivering was om aan myself te bewys dat ek in staat is om berge te versit as ek myself die geleentheid gun en ook om my soms as ma, vrou en entrepreneur eerste te stel. Dit kom daarop neer dat ek eers my beker moet vol maak en vol hou voordat ek na ander se belange kan omsien.
“Die ondervinding om gekies te word vir Plaasjapie en om deel te wees van Seisoen 2 is ’n onbeskryflike trotse gevoel. Die uitdagings is aksiebelaai, maar ook gevul met emosies wanneer ons by die koöperasie besoek aflê om ’n spanlid uit te stem. Ek leer gewis dat ek tot soveel meer in staat is wat ek dink.”
Anderson is ’n voltydse entrepreneur wat haar sap-onderneming, Raw Squeeze, bestuur. Haar onderneming het in haar kombuis ontstaan toe sy probeer het om ’n gesonde leefstyl en eetgewoontes by haar gesin te kweek.
“Ek kon ongelukkig geen sap saamneem plaas toe, omdat ons geen luukshede toegelaat is nie.”
Omdat die jongste seisoen tans uitgesaai word, sê Anderson sy kan nie baie in diepte verduidelik nie, maar haar grootste uitdaging, wat ook ’n groot voordeel is, is wanneer mense haar geheel en al as ’n deelnemer onderskat omdat sy die kleinste in postuur is.
“Die eerste uitdaging op die groot werf waar ek geblinddoek die hooibaal moes dra, was ook uiters moeilik.”
Sy beskryf haarself as hardwerkend, lojaal, vriendelik en vol lewe, gedrewe, energiek, Christelik, passievol, lief vir mense en iemand wat hard is op haarself.
“My hardwerkende en vriendelike geaardheid, my liefde en omgee vir mense, diere en natuurlik die plaas is van my sterk punte; ook dat ek mense of omstandighede nie maklik vertrou nie en dus nie maklik om die bos gelei kan word nie. Dit keer ook dat ek maklik beïnvloed word. Ek swem nie altyd saam met die stroom nie.”
Volgens Anderson is een van haar swakste eienskappe dat sy soms toelaat dat haar emosies haar oorweldig.
“Ek is in baie opsigte hard op myself. Ek kom as baie onafhanklik voor, en dit lyk soms of ek nie iemand anders nodig het nie. Dis bloot omdat ek van jongs af onafhanklik moes wees en as ouer suster ’n groot rol in my sibbe se lewe moes speel om my ma as enkelouer by te staan.”
Sy nooi almal om elke Donderdag om 20:00 in te skakel op DStv-kanaal 144 om die jongste episode van Plaasjapie te sien. Die eerste episode is reeds op 18 April uitgesaai.
“Mense kan uitsien na episodes gevul met drama, hartseer, teleurstelling en vreugde onder die deelnemers. Ek kan nie te veel verklap oor wat die volgende weke gaan oplewer nie, maar kykers moet nie ’n episode misloop nie.”
. Besoek www.rawsqueeze.co.za vir meer inligting oor Raw Squeeze.





