Lee Roodt reik na die sterre.Foto:


’n Paar van die Paarl se pêrels het twee weke gelede by die jaarlikse Silwerskermfees gepronk.

Lee Roodt, ’n boorling van die Paarl, het ’n Afrikaanse karate-kortfliek geskryf, in die fliek gespeel en die choreografie vir die karate-tonele saamgestel. Die Swart draak ontwaak is by die Silwerskermfees vrygestel.

Hy bestudeer die Oosterse gevegskuns karate al van kleins af.

“Destyds, toe ek ses jaar oud was, het ek vir my ma gesê ek wil daai doen nadat ek Bruce Lee in aksie gesien het. Kort daarna het my ma my geneem om my sensei, Johan Smith, te ontmoet.”

Die 39-jarige Roodt is al jare lank ook ’n akteur en was al voorheen betrokke by Binnelanders, Suidooster en Arends­vlei, om net ’n paar te noem. Hy speel ook rolle in baie internasionale flieks.

Oor die jare heen het Roodt ’n versameling stukke oor die Oosterse gevegskuns geskryf en hy verduidelik die fliek is eintlik die oorsprongstorie.

“Die fliek is die origin story van die ander martialartsstories wat ek al geskryf het. My eerste sensei het natuurlik ’n invloed op die hoofkarakter gehad, dus is die karakter se van ook Smith. En daar is ook nie enige ander Afrikaanse martial arts movies nie. Selfs die fliek se naam is ’n ode aan my ou laerskool, die Laerskool Drakenstein.”

Roodt het deur middel van die fliek ook die geleentheid gehad om saam met baie van sy Paarlse vriende asook sy broer, Lindzey Roodt, te werk.

“Dit is ’n once in a lifetime opportunity om saam met ’n mens se vriende te kan werk.”

Die fliek se regisseur is die bekroonde Redione Stephens.

Ander Paar­liete wat by die fliek betrokke was, sluit in Keenan Martin, ook bekend as Kay Kinetic, wat aan die klankbaan gewerk het. Dan was daar ook die akteur Jeremeo le Cordeur, Novenio Daniels en Enver van Breda, om net ’n paar te noem. Die kortprent het ook vyf benoemings by die Silwerskerm­fees gekry waar Roodt ’n benoeming vir beste akteur in ’n kortfliek gekry het.

Hulle het twee van die vyf afdelings waarin hulle benoem is, gewen. Die afdelings wat die fliek gewen het, was Kortfliek – beste redigering en beste klankontwerp. Hulle het ook ’n spesiale vermelding vir choreografie en waaghalstoertjies ontvang.

“Ek het regtig nie enige van die benoemings verwag nie – veral nie die een vir beste akteur in ’n kortfliek nie. Al het ek dit nie gewen nie, het ons drie ander afdelings gewen. Ek sou nie hierdie fliek sonder die span kon maak nie. Hulle het my elke dag die dryfkrag en motivering gegee om dit die beste kortfliek te maak wat dit kan wees.

Vir die toekoms hoop Roodt om die kortfliek ’n vollengte-fliek te maak, en om ook ’n televisiereeks daaruit te ontwikkel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article